HOOFSTUK 24
WATTER ROL GAAN DIE CHRISTENDOM SPEEL IN DIE TWEE OPSTANDINGS? IS DAAR TOEGANG VIR CHRISTENE TOT DIE NUWE JERUSALEM?
Dit beteken dat feitlik alles in die Christendom – van die naam “Kerk” tot die argitektuur van die geboue, tot die ontstaan van die huidige moderne feesdae en meeste van die leerstellinge, afkomstig is direk uit die heidendom waarvan die Almagtige verklaar: “So sê Yahuweh:
“MOENIE DIE GEWOONTES VAN DIE HEIDENNASIES AANLEER NIE …MOENIE VRA/Sê HOE VEREER HIERDIE NASIES HUL GODE? EK SOU DIT OOK SO WOU DOEN” Jer. 10:2 & Deut. 12:30.
Ons mag nie heidense terme en gebruike “verchristelik” nie!! Die enigste manier om seker te maak dat jy deel gaan wees van die Eerste Opstanding van die dode is om gehoorsaam te wees aan die opdrag:
“KOM UIT HAAR UIT MY VOLK, SODAT JULLE NIE AAN HAAR SONDES DEEL KRY EN DIE PLAE WAT OOR HAAR KOM, JULLE OOK TREF NIE” Openbaring 18:4. Slegs as jy deel is van die bruid van Yahshua, sal jy deel wees aan die Eerste Vrugte wat ook gelyk gestel word aan die bruid van Yahshua.
BAIE SLEGTE NUUS VIR CHRISTENE
Ek het baie slegte nuus vir Christene – vir die sogenaamde ‘wedergebore christen’ – diegene wat deel is van die Christendom wat bewustelik die Torah van Yahweh minag en weier om dit te onderhou en na te kom. Daar is geen plek vir diesulkes in die nuwe Jerusalem nie. Daar is geen toegang vir die kerk tot die nuwe Jerusalem nie. Jy kan toegang tot die nuwe Jerusalem kry SLEGS as jy ‘n Yisraeliet is of deel is van, ingeënt is op een van die twaalf stamme van Yisrael. Die Restoration Scriptures True Name Edition Study Bible sê vir ons in Openbaring 21:9:
“……Come here, I will show you the bride, Yisrael, the Lamb’s wife” (Kom hierheen, Ek sal jou die bruid toon, Yisrael, die vrou van die Lam”)
Hierdie waarheid word bevestig in vers 12:
“En sy (die stad Jerusalem) het ‘n groot en hoë poort en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf boodskappers, en name daarop geskryf, naamlik die van die twaalf stamme van die kinders van Yisrael”.
DAAR BESTAAN SLEGS TWAALF HEKKE
VIR SLEGS DIE TWAALF STAMME VAN YISRAEL
Die hernieude Jerusalem is die ewige woning van alle gelowiges in Yahshua die Messias. Maar daar is SLEGS TWAALF HEKKE VIR SLEGS DIE TWAALF STAMME VAN YISRAEL. Daar is geen hek vir heidene of Christene of Jode of Moslems of Buddiste of vir enige ander geloof nie. Daar is ook geen ander ingang nie!
Slegs bloed gewaste Yisraeliete wat Sy gebooie onderhou, sal in hierdie beloofde ewige woning mag ingaan. Indien jy ‘n wedergebore gelowige in Yahushua is, ongeag kleur of ras, dan is jy ‘n Yisraeliet aangesien jy deur een van die twaalf hekke die Jerusalem stad sal binne gaan!
DAAR IS GEEN HEK TOT DIE
NUWE JERUSALEM WAT TOEGANG BIED VIR
CHRISTENE, OF DIE KERK, OF MOSLEMS, OF HINDUS,
OF ENIGE ANDER GELOOF NIE
En in vers 14 word ons meegedeel:
“En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was twaalf name van die twaalf apostels van die Lam” (Matthias is later verkies naam in die plek van Judas)
Hierdie gedeelte is ‘n getuienis wat die Skrif in homself bevestig om te staaf dat die Messias Yahshua inderdaad gestuur is en gekom het na die verlore skape van die huis van Yisrael – Mat. 15:24 en ook Mat. 10:6.
En wat meer is, hierdie teksverse in Openbaring staaf weer Miga 2:12:
“Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Yaakov! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Yisrael; almal bymekaarbring soos skape in ‘n kraal, soos ‘n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense”.
Dit is presies wat ek myself voorstel hoe dit gaan wees wanneer die Yisraeliese gelowige oorblyfsel bymekaar gebring gaan word as die bruid van Yahshua in die nuwe Jerusalem. Dit sal dreun van mense, sofars en trompette sal geblaas word, die naam van Yahweh sal gedreun-sang word ….
Maar daar is NOG MEER SLEGTE NUUS vir die halsstarrige opsetlike ‘wedergeborenes’ van die Christendom?
Openbaring 22:11-14:
“Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en wie regverdig is, laat hom nog meer geregtigheid doen, en wie afgesonder is, laat hom nog meer afgesonder word. Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk is. Ek is die Alef en die Tav, die begin en die einde, die eerste en die laaste. GESEëND IS DIE WAT SY GEBOOIE DOEN, SODAT HULLE REG KAN Hê OP DIE BOOM VAN DIE LEWE EN INGAAN DEUR DIE POORTE IN DIE STAD”.
Hoe bring ek hierdie gedeelte van die Skrif in verband met bv. Jesaja 59:2 wat sê:
“Maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle Elohiem, en julle sondes het Sy aangesig vir julle verberg sodat Hy nie hoor nie.”
En hierdie volgende verskriklike vervloeking op elke moedswillige Christen – dis so erg dat ek koue rillings kry en wens ek kan diegene wat so blind en doof is, wakker skud soos my boerboel ‘n rot.
Spreuke 28:9 veroordeel jou tot in die afgrond:
“Wie sy oor wegdraai om nie na die Torah te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel”.
En wat van Psalm 119:21
“U dreig die vermeteles as gevloektes wat van U gebooie/Torah afdwaal”.
Vind dit dalk aansluiting by Mat.19:17?
“ …Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie”.
en by Lukas 10:28 waar Yahshua antwoord:
“Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe”
En in Johannes 12:50 sê Yahshua:
“En Ek weet dat Sy gebod die ewige lewe is. Wat ek dan praat – net soos die Vader vir My gesê het, so praat Ek”.
DIS HARTSEER!! AS jy die Torah minag, nie respekteer deur dit te onderhou nie, dan moet jy ook nie eens tyd mors om ‘n ‘tafel’gebed of selfs ‘n tradisionele ‘skietgebedjie’ te bid nie, want die Skrif deel ons mee:
“JOU GEBED IS ‘N GRUWEL IN DIE Oë VAN YAHWEH”
En kom ons neem maar die eenvoudigste, die sigbaarste gebod, die 4de Gebod. Hou jy die Shabbat? Hou jy die 7de dag van die week as Yahweh se Shabbat? AS jy hierdie Gebod, die eenvoudigste en sigbaarste Gebod nie nakom nie, DAN disrespekteer jy die Torah en dan is jou gebed ‘n gruwel voor Yahweh. Die Skrif is duidelik. As jy een Gebod doelbewustelik veronagsaam, minag jy, disrespekteer jy die hele Torah van Yahweh.
En moet nie dink omdat jy miskien die Shabbat onderhou, maar jy oortree die 2de en 3de Gebod, dat jy veilig is nie. Jy bly deel van die Christendom – deel van BAAL-AANBIDDING – jy vervang die Allerhoogste afgesonderde Hebreeuse Naam van die Skepper met ‘n Griekse mitologiese afgodsnaam! ‘n Ander god in die plek van Elohiem Yahweh.
Die SDA’s hou miskien die weeklikse Shabbat, maar hulle ignoreer die sewe (7) jaarlikse Shabbatte en die Feeste van Yahweh. Sê ook soos die res van die Christendom “hulle is nie meer van toepassing nie” en hulle gebruik, net soos die res van die Christendom, ook nog die afgodsname, die Griekse mitologiese afgodsname van ‘iesous’, ‘jesus’, ‘here’ (hemelse koningin), ens.
Een van hulle vooraanstaande sprekers, ‘n wetenskaplike, het in ‘n reeks, ‘Die Hervorming Herontketen’, direk verklaar dat dit nie nodig is om Sy allerhoogste en afgesonderde name te gebruik nie – hy is dood tevrede met die Griekse afgodsname!! IHSOUS. (My parafrasering) (Dit ondanks die feit dat hy in ‘n ander reeks, juis na die Naam van die Vader verwys as YAHWEH). Maar hy dink hy hou die Torah omdat hy Shabbat op die 7de dag hou, en omdat hy rein kosse eet. Dit tenspyte van die briljante lesings wat hy aanbied oor die Rooms Katolieke Kerk, die Vrymesselaars, die Argeologie, ens. Yahweh gaan vir jou VAT, want jy WEET, MAAR jy is ongehoorsaam. Jy het navorsing gedoen!! Jy het jou kans gehad!
Die eerbied vir Yahweh se Gebooie, Sy Torah, is so wesenlik belangrik dat Hy ons weereens daarmee konfronteer in Mat. 7:22-23 (Psalm 6:8). Yahshua waarsku ‘n sekere groepering van mense wat uit en uit dieselfde kenmerke vertoon as diegene in die Christendom –
hoeveel christene is daar nie vandag wat in die afgodsnaam van “Iesous Chrestos” duiwels uitdryf en wonderwerke doen nie en profeteer nie –
“En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat ongeregtigheid bedryf/Torah-loos is” Yahshua kwoteer hier uit Psalm 6:8 – gaan lees dit!! En verder impliseer Yahshua dat hierdie mense ‘n ongehoorsame leefstyl handhaaf wat totaal en al nie gebaseer is op die Torah nie.
Verder is dit skrikwekkend hoedat Lukas 13:23 – 30 aansluiting vind by die Skrifgedeelte in Openbaring wat verwys na diegene wat buite sal wees en nie toegelaat sal word om die Jerusalem-stad binne te gaan nie.
“Meester, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie”.
En vers 27:
“En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid/Torahloosheid”
Sonder gehoorsaamheid aan die Torah, sal Yahshua geen mens se diens of die gees waarin daardie persoon opgetree het, erken nie – dit is hard, maar dit is die Skrif.
Dit is my nederige oorwoë mening dat die bruid van Yahushua, sal bestaan uit ‘n klein oorblyfsel van die twaalf stamme van Yisrael. En verder is dit my oorwoë mening dat dit slegs die bruid van Yahshua sal wees wat deel gaan hê aan die eerste opstanding – diegene wat Sy Gebooie onderhou het, wie saam met Hom gaan heers vir ‘n 1000 jaar lank.
Die res, insluitend die Christendom, wat Yahshua aanvaar en in Hom glo as Verlosser en Saligmaker maar nie Sy Torah respekteer en onderhou nie, gaan die eerste opstanding mis maar deel hê aan die tweede opstanding, die tweede dood. Hulle glo intellektueel aan die Messias, maar doen nie die gebooie nie, omdat hulle Hom slegs intellektueel lief het, wel in woord, maar nie in daad nie – vir hierdie groep is ‘n ander bestemming berei, nie Jerusalem nie.
Daar bestaan NIE so ‘n lering in die Torah, in die Ou Testament, as die WEGRAPING nie. Dit gaan nie gebeur soos wat die algemene Christendom glo en verkondig nie. Hierdie storietjie is letterlik ‘n biljoen-dollar besigheid in die wêreld. Jy kan orals DVD’s of videos hieroor te koop kry. Boeke van sogenaamde bekende Torahlose skrywers wat biljoene dollars verdien. Hulle leef so Torahloos dat hul intiemste ‘oortredings’ vir almal wat wil gaan lees of kyk, genadeloos oop en bloot uitgestal is op die internet webwerwe.
In die Torah, die begin van die Skrifte, word ook die einde van alle dinge reeds verklaar. Dit wat aan die einde is, word aan die begin reeds verklaar. Die Torah van Yahweh is ongelooflik wonderbaarlik onveranderlik ewig trou en waar.
Deuteronomium 4:30 leer ons van die Groot Verdrukking – die Doel van die Groot Verdrukking:
“As jy in die nood is en al hierdie dinge AAN DIE EINDE VAN DIE DAE oor jou kom, sal jy na Yahweh jou Elohiem terugkeer en na Sy stem luister.”
Yahweh gaan die groot verdrukking gebruik om ons, Sy gelowige Torah onderhoudende kinders te suiwer, te louter en te vorm soos wat Hy ons wil hê. Hy bly steeds die Pottebakker met Sy gelowiges wat klei in Sy hande is. Onthou in Genesis is Hy reeds die Pottebakker en Adam en Chavah, die klei in Sy hande. Genesis is ook ‘n gelykenis, ‘n profetiese vooruitskouing van wat aan die einde gaan gebeur en besig is om te gebeur.
DIE TORAH - DIE BASIS VIR LEERSTELLINGE
SOOS in die dae van Noag, SO sal dit ook wees in die laaste dae, het Yahshua Sy dissipels gewaarsku. Die goddelose word vernietig en die regverdige word gered. Die Torah is die basis vir alle leringe.
Psalm 37:27-29 waarsku die goddelose om af te wyk van die kwaad en te doen wat goed is sodat jy vir ewig sal woon. Yahweh het die reg lief en sal Sy gunsgenote nie verlaat nie. Vir ewig word hulle bewaar. WOW! En dan verder: die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.
En dan kom die Messias Yahshua in Mat. 5:5 en Hy eggo hierdie boonste Skrif as Hy sê: Geseënd is die sagmoediges wat hulle sal die aarde beërwe.
En dan Esegiël 37:21-28 – Onthou dit is van die Yisraeliete, ons, waarvan hierdie profeet hier praat.
“En sê vir hulle: So sê die Meester Yahweh: Kyk, Ek gaan die kinders van Yisrael haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hulle land. En ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Yisrael; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie.
Lees die res van hierdie Skrifgedeelte klaar tot by vers 28.
Dit is van die “verlore” tien stamme wat in die diaspora (ballingskap) verkeer. Wie verspreid en vermeng is tussen die nasies en volkere van die aardbol waarvan ek en jy ‘n integrale deel is. En ook die twee stamme wat reeds in die land van Yisrael op hierdie stadium is, waarvan die profeet praat.
Hierdie is een van die grootste en wonderbaarlikste wonderwerke wat die Skepper Yahweh nog ooit gaan doen. Ek het reeds voorheen daarna verwys.
Jeremiah 16:14-15 sê dat hierdie betrokke wonderwerk groter gaan wees as die uittog van die Yisraeliete uit Egipte uit. Hulle gaan praat van Yahweh wie die kinders van Yisrael bymekaar gemaak het uit die noorde uit en van al die nasies waarheen Hy hulle verdrywe het. Die Yisrael van 1948 was maar net die begin van twee sigbare stamme. Lees saam met hierdie gedeelte ook Jes. 27:13; 43:6; Jeremiah 31:8-9, ens.
Die Groot Verdrukking is nie net sommer ‘n gebeurtenis wat die Christendom dink hy gaan mis nie. Die ware gelowiges gaan terugkeer na Yahweh Yahshua en na Sy Torah of hulle gaan deel word van die Nuwe Wêreld Orde Godsdiens waarvan die Pous die hoof is.
Kom ons gaan na 1 Thes.4:15-18. Bekende Skrif wat die ‘wegrapers’ aanhaal, maar so verkeerd!! Yahshua kom van die hemel af na die aarde toe. Diegene wat ontslaap het, soos die profeet Job en andere, sal opgewek word met ‘n nuwe geestelike verheerlikte liggaam. En die wat in die lewe is, sal in ‘n oogwink verander en ‘n verheerlikte geestelike liggaam ontvang. Ons sal weg gevoer word na die Meester toe in die lug omdat Hy die aarde gaan vernietig en ‘n nuwe aarde en ‘n nuwe hemel gaan skape. Dit is aan die heel einde van die dae, lank na die Groot Verdrukking.
Maar waar gaan ons uiteindelike tuiste wees? Op die aarde! Openbaring 21:1-4 vertel dit so mooi duidelik vir ons. Die res van die Geskrifte is vol oor die eindbestemming van die gelowiges. Die Tanakh (Hebreeuse ou Testament) stel ‘n duidelike patroon regdeur wat deur die Messias Yahshua bevestig word.
Spreuke 2:21-22; 3:25-26; 10:25; Psalms 37:9; 37:10; 37:22; 37:28-29; Jesaja 66:15-17; Mat.13:24-30; Lukas 17:28-30 – die boodskaplyn is duidelik, ondubbelsinnig - Die goddelose word verwyder, vernietig, maar die regverdige beërwe die aarde en hulle sal vir ewig daarop woon. WOW!!
En Markus 13:24-27 is so in die kol, “en dan sal Hy Sy boodskappers uit stuur, en Hy sal Sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel”. Yahshua herhaal die wonderlike profetiese gedeelte uit Jeremiah 16 uit.
Ek wil graag deel wees van Sy bruid. Omdat ek Hom lief het, wil ek Hom toelaat om die beeldhouer te wees van my lewe. Sodat Hy my kan vorm soos wat Hy dit beoog het voor die grondlegging van die aarde af. En dit sal vir my een van die grootste voorregte wees om vir Hom, terwille van Sy Naam en Torah, ‘n martelaarsdood te sterwe, omdat ek Hom lief het. Om die anti-messias te weerstaan en hom te vertel dat hy in die poel van vuur gegooi gaan word en dat Messias Yahshua oor hom gaan heers. Maak my maar dood, moet nie so lank neem nie, jy mors tyd. Yahweh Yahshua sal ons toerus met Sy Ruach HaKodesh om hierdie lyding en beproewing deur te gaan en om gelouter en gesuiwer ander kant uit te kom by die wenpaal en om die Kroon van die Lewe te ontvang as prys, wie niemand anders as Yahshua self is nie. Yahweh gaan ons beskerm, deur ‘n martelaarsdood, of enige ander manier wat Hy goed dunk, maar beskerm gaan Hy ons.
Dis belangrik om te onthou dat daar in ons moderne tye diegene is soos die Chinese gelowiges of diegene uit donker Afrika uit, wat weens die valse Bybel vertalings wat by hulle uitkom, die Messias in Gees en in Waarheid aanbid. Wat Hom met hulle lewe lief het en ook hul lewe vrywilliglik vir Hom aflê, maar wie nie die eerste vier gebooie nagekom het nie, diesulkes het reeds in liefde die Torah ten volle nagekom! Die Skrif sê so – maar dit kan geen Christen wie die waarheid geken het, sê nie – soos byvoorbeeld jy wat tot hier toe gelees het, jou predikante wat die Skrif moet bestudeer en dit nie doen nie.
Let wel, ek veroordeel nie Christene nie. Uit myself uit kan ek hoegenaamd nie seker wees dat ek ooit deel gaan wees van Yahshua se bruid nie, maar ek maak staat op die inligting, die liefdevolle instruksies, wat Yahweh vir my beskikbaar stel in Sy hele Torah en om dit te hou na die beste van my vermoë. Want die onderhouding van die Torah op sigself sonder die persoonlike aanvaarding van die vergifnis van my sonde wat plaasgevind het deur die vloei van Yahshua se bloed toe Hy as offerande vir my persoonlik aan die folterpaal geoffer is, beteken niks nie.
Ek weet net dis groot guns AS ek toegang kry deur een van die twaalf hekke van die Jerusalem stad. Ek sal soos koning Dawied smekend onderhandel – laat my tog net in U tempel in, al moet ek net ‘n deurwagter wees – want daar is niks in myself wat my geregtig maak op toelating nie. Ek kan slegs verseker wees dat Sy Woord/Torah waar is en dat Sy Beloftes aan my onveranderd sal wees mits ek volhou om in Hom te bly. Daar is baie gevalle waar gelowiges hul geloof versaak en terug keer na die wêreld toe, soos ‘n hond na sy eie braaksel.
Want Yahshua sê self dis baie min wat gered gaan word, wat in Jerusalem sal ingaan, wat die bruid van Yahshua sal uitmaak. Ek sal en doen steeds nederig soos Moses in Exodus 33:13 gesmeek het “as ek dan nou guns in u oë gevind het, maak my dan U weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek guns in U oë kan vind………”
Dit bly ‘n KRINGLOOP van liefde, Torah-onderhouding, nog meer liefde, weer Torah-onderhouding, en weer liefde ad infinitum. Weer Torah-onderhouding en nog meer liefde. Onthou Yahweh is ‘n sirkel en Sy Torah-waarhede word in siklusse aan Sy gelowiges meegedeel.
Dit is slegs guns maar gelukkig weet ek dat guns die grondslag van die Torah van Yahweh is.
In Openbaring 14:12 praat Yahshua van Sy afgesonderdes: Sy bruid; Sy gelowige en gehoorsame kinders;
“Hier kom die lydsaamheid van die afgesonderdes te pas; hier is hulle wat die GEBOOIE VAN ELOHIEM en die GELOOF IN YAHSHUA bewaar”.
Dieselfde boodskap is in Openbaring 12:17:
“….wat die GEBOOIE van Elohiem bewaar en die GETUIENIS van YAHSHUA hou …..”
Jy sien, die ortodokse Jode vandag, meestal van die stam van Yahudah (Juda) hou die Torah en kom dit na. Maar omdat hulle die Messias Yahshua verwerp, verwerp hulle die kern Boodskap van Elohiem Yahweh se Koninkryk en bevind hulle hulleself buite die bruid van Yahshua, buite die nuwe Jerusalem. Hulle HET die Torah, maar NIE die Messias Yahshua nie – tevergeefs!
Die Torah en die Messias Yahshua loop hand aan hand. Yahshua die Messias is die Lewende Torah – hulle is Echad (een).
VERWERP JY DIE EEN, VERWERP JY DIE ANDER.
“En as julle aan die Messias behoort, dan is julle die nageslag van Avraham en volgens die belofte erfgename”,
Die ware Yisraeliet van Galasiërs 3:29 is diegene wat SOWEL die Messias Yahshua aanhang ASOOK Sy Torah respekteer en doen. Hy, Yahshua is die Lewende Torah, is Yahweh wie vlees geword het. Albei loop hand aan hand. As jy die Torah van Yahweh verwerp, verwerp jy die Messias Yahshua. En as jy die Messias Yahshua verwerp, dan help die Torah van Moses jou net mooi niks nie.
TORAH DIE GRONDWET IN
DIE 1000 JARIGE KONINKRYK
Die Torah gaan ‘n wesenlike rol vervul in die toekomstige 1000 jarige vrederyk van die Messias Yahshua. Die eie en persoonlike Naam van YAHWEH/Yahushua sal tydens die 1000-jarige Koninkryk van Yahshua universeel gebruik word en bekend wees onder al die bewoners van die aarde. Die grondslag van die verhouding tussen die nasies van die aarde en Yahuweh sal Sy Wette/Torah wees en die nakoming van Sy aparte feesdae.
Zechariah 14:16 toon dat almal wat oorgebly het, van die nasies wat teen Jerusalem in opstand was, een maal per jaar die Koning van die Konings sal gaan aanbid in Jerusalem en om onder andere die Fees van Tabernakels te vier.
Jesaja 11:9 en Habakkuk 2:14 beskryf hierdie opset ook. Die Kennis van Yahuweh sal oor die hele aarde wees. Jesaja 66:22-23 voorspel dat ons selfs Yahweh se nuwemaan feeste en elkeen van Sy Shabbatte sal vier en Hom sal aanbid in die 1000-jarige vrederyk. ALMAL op die aarde sal beskik oor die Kennis van Yahweh. Sy wette sal op ELKEEN se hart geskrywe wees – dit is die Nuwe Verbond waarvan Yahweh praat – dan eers is die Ou verbond “klaar” vervul.
As ons dan die eie persoonlike Naam van Yahuweh in die 1000-jarige koninkryk gaan ken en gebruik, en as ons dan die Torah en die Feeste van Yahuweh gedurende die 1000-jarige koninkryk gaan onderhou en nakom, en as ons dan Sy Shabbatte gedurende die 1000-jarige koninkryk sal nakom en onderhou, en as ons dan Sy nuwemaan feeste gedurende die 1000-jarige koninkryk sal nakom en onderhou, waarom is ons nou daarvan vrygestel? Hierdie Feeste is Yahweh se Feeste en hulle is vir Hom baie belangrik. Ons het nie ‘n keuse nie, maar ons moet hulle vier. Die Skrif sê so, en ek het reeds daarna verwys. Maar die Christendom is dood tevrede om sondag na sondag hul tyd ‘n uur lank te gaan verspil met ‘n nuttelose verpligting om na ‘n afgewaterde morele prekie te luister waarvan die Griekse afgod ‘jesus’ die eer en aanbidding ontvang. In die geesteswêreld gebeur dit wel so, of die christene daarvan bewus is of nie.
DIE VERSKIL TUSSEN DIE TWEE OPSTANDINGS
Ek sal vir jou probeer wys waarom ons dit nou reeds moet doen, want dit KAN ‘N VERSKIL BETEKEN tussen die Eerste Beter Opstanding en die Tweede Opstanding!!??
Die Skrif en meer spesifiek Lukas 20:35 by monde van ons Messias toon aan dat diegene wie WAARDIG geag word, hulle sal die ewige lewe (daardie eeu) be-erf en die opstanding uit die dood. Wie gaan waardig wees?
Die Skrif leer ons dat die Eerste Vrugte Oes baie klein gaan wees by Sy Wederkoms. Dit is die Eerste, Beter Opstanding. Yahweh se gelowige kinders wat tydens hierdie Opstanding uit die grafte opgewek word en ook diegene wat lewendig is, wie in ‘n oogwink van ‘n nuwe geestelike verheerlikte liggaam voorsien sal word. Hulle sal vir ‘n 1000 jaar lank saam met Yahushua in Sy koninkryk heers as priesters en konings.
Maar daardie dag, Sy Wederkoms gaan ook ‘n verskriklike dag wees, ‘n dag om nooit te vergeet nie.
Jesaja 13:9 en verder, onder andere, wys vir ons baie duidelik:
“Kyk die dag van Yahweh kom, verskriklik, met gramskap en gloeiende torn, om die aarde ‘n wildernis te maak EN SY SONDAARS DAARUIT TE VERNIETIG. Want die sterre van die hemel en sy Orions sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. ……Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die gramskap van Yahweh van die leërskare en vanweë die dag van sy gloeiende toorn”
Dit gaan ‘n allerverskriklike dag wees. Die sondaars gaan uit die wêreld uit vernietig word. En jy sal sien dat diegene wat oorbly, baie min gaan wees. Jesaja wys vir ons in vers 12 dat Yahweh sal sterflinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofier.
En moet nie Sagaria 12:10 vergeet nie!
“…..; En hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ’n
enigste seun en bitterlik oor Hom ween ….”
Dit gaan ‘n allerverskriklike dag wees vir die wat rede het om Hom te vrees. Maar vir die wie se Torahloosheid hul vergewe is, gaan dit ‘n wonderlike dag wees.
Die agtergeblewenes, dit wil sê Sy kinders, diegene wat deur die Groot verdrukking gegaan het en deur Yahweh in hul fisiese liggame bewaar is, sal baie baie min wees. Hulle is diegene wat in ‘n oogwink op die laaste moment voordat die oordeel van Yahweh die aarde tref, voorsien word van nuwe verheerlikte geestelike liggame.
Ook Yahshua vertel vir ons in Mat.24:29
“En dadelik na die verdrukking van daardie dae sal die son
verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val ….. en dan sal die teken van die Seun van die Mens in die hemel verskyn en (onthou jy Sagaria 12:10?) dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en grootheid …. En Hy sal Sy boodskappers uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke…..”
Yahushua kwoteer inderdaad hier uit Sagaria uit.
Daar is NIE ‘n wegraping wat gaan plaasvind voor die Groot Verdrukking wat op hierdie stadium baie naby is nie. Kyk maar Daniel’s Timeline gegrond op Torah feite.
Yahshua sê self in Joh. 5:22-29, Living Bible,dat elkeen wie Sy boodskap hoor en in Yahweh glo, die ewige lewe het en het al reeds uit die dood na die lewe oor gegaan. Yahushua sê verder uitdruklik dat die dode Sy stem sal hoor en diegene wat luister sal lewe. Dit is nou diegene onder die dode – by implikasie sal daar diegene onder die dode wees wat nie sal luister nie en dood sal bly.) Vers 25.
In Vers 28 verklaar Yahushua dat daar ‘n tyd sal kom dat AL die dooies in die grafte Sy stem sal hoor en sal opstaan, diegene wat goed gedoen het tot die ewige lewe en diegene wat in sonde voort geleef het, tot oordeel.
Die Liv. Bible is konsekwent met ander vertalings soos die KJV wat ook die vertaling van die Liv. Bible ondersteun in verse 25 en 28. (Ignoreer die Afrikaanse Lewende Bybel – dis misleidend ofskoon die gewone Afrikaanse Vertaling dit ook duidelik onderstreep).
Dit is duidelik dat Yahushua praat van twee afsonderlike gebeurtenisse in verse 25 en 28 onderskeidelik. Vers 28 se gebeure vind plaas een duisend jaar na die gebeure in vers 25.
Die 8ste dag van die Fees van Tabernakels is juis simbolies en profeties van die gebeure wat letterlik op die betrokke dag en datum in die praktyk sal realiseer en afspeel tydens die Tweede Opstanding, die Tweede Dood.
DIE AGSTE (8) DAG NA DIE FEES VAN TABERNAKELS
VERTEENWOORDIG WAARSKYNLIK ‘N DUISEND JAAR
Dit is waarskynlik dat hierdie 8ste dag, die Tweede Opstanding ‘n 1000 jaar lank sal duur. Kan dit wees dat ‘wedergebore’ christene in hierdie tyd geoordeel, beoordeel, gedissiplineer en opgevoed en geleer sal word om uiteindelik ooreenkomstig Torah-vereistes te leef en Yahshua aan te gryp en Hom te behaag deur te doen wat Hom welgevallig is? Dis diegene wat totaal onkundig was sonder dat hulle skuldig was deur die waarheid te vermy het. (Onthou die Torah beginsels is ook relevant in die hiernamaals, in die geesteswêreld. Torah is ewig onveranderlik. Daarom moet die gelowiges in die hiernamaals ook Torah onderhouers wees).
Deel van die bruid is hulle nie, en sal dit nie wees nie, daardie geleentheid is verby – daar is nie ‘n tweede kans nie. Maar hulle is Sy kinders en sal dienooreenkomstig erfgename wees, saam met Koning Yahshua van die nuwe hemele en die nuwe aarde – ek weet nie, ek wil nie hê hulle moet verlore wees nie – maar die Skrif is die finale gesag. Hulle sal waarskynlik nie toegelaat word in die nuwe Jerusalem nie.
In Vers 25 verwys Hy na diegene onder die dode wie Sy stem sal hoor en daarna luister en sal lewe (ander van die dode sal nie Sy stem hoor nie en nie daarna luister nie en dood bly).
Yahushua maak ‘n onderskeid tussen die Eerste Opstanding by Sy wederkoms, die Eerste Dood, die Beter Opstanding, Sy Eerste Vrugte, diegene wat vir ‘n 1000 jaar lank saam met die Messias sal regeer as priesters, regters en konings. Oor hierdie gelowiges het die Tweede Dood geen aanspraak nie!!!! Diegene met verheerlikte liggame van vlees en been en ‘lig energie’ in hul are – Yahweh is lig!. Open. 20:5-6. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie.
Dan in Vers 28 verwys Hy weer na die dode, maar hierdie keer sal ALMAL Sy stem hoor en opstaan (ook diegene onder die dooies wat met Sy wederkoms, met die Eerste Opstanding nie geluister het nie).
Dit is die Tweede Opstanding, die Tweede Dood, die Wit Troon Oordeel, die Poel van Vuur.
In Open. 20:11-15 blyk dit dat almal van die dode opgewek word. Die boeke word ge-open, een is die Boek van die Lewe waarin alle gelowiges se name in geskryf is en ook die ander boeke!!!!
MOSES GAAN DIE AANKLAER WEES NIE DIE SATAN NIE
Daardie boeke bevat die Torah en die profete – blaai terug na Joh. 5:45-47. Yahushua is steeds besig om die skrifgeleerdes te leer en met hulle te redeneer oor die feit dat hulle in Hom, Yahushua, en Sy Vader glo of nie glo nie en die respek wat hulle vir Sy Vader het of nie het nie, Vers 44. En dan, die Wetgewer is self aan die woord. Hy sê dit is nie Hy wat hulle (ons) sal aankla van disrespek en minagting teenoor Yahweh (Elohiem die Vader) nie, maar MOSES!! en sy wette, die Torah – en die hart van die Torah is Lev. 23, die sewe (7) feeste van Yahuweh SAAM met Sy Shabbatte wat Hy wil hê ons moet hou en gedenk uit liefde en gehoorsaamheid.
Die gelowiges wie se name reeds in die boek van die Lewe geskryf is, sal geoordeel word, ook aan die hand van die Torah van Moses en hulle sal gesuiwer en gelouter word en dan vrygespreek word op grond van die afgehandelde offerande/verlossingswerk van die Messias wie se bloed gevloei het om vergifnis en versoening met Abba Yahweh te bewerk.
Maar hulle het as gelowiges op aarde versuim om die Skrif te gehoorsaam en het hul eie menslike interpretasies en wette nagevolg. Yahushua sê self in Joh.5:45 Moses sal hulle (ons) aankla by die Vader – nie die Satan of Duiwel nie, maar Moses sal die klaer wees!!
Ja, dit is heel waarskynlik wat met jou sal gebeur indien jy weier of versuim om die eie persoonlike Naam van Yahweh (2de en 3de gebod) en die Shabbat (4de gebod) en die feeste soos uiteengesit in die hart van die Torah, Lev. 23, te onderhou en te gedenk. Of as jy sou voortgaan om ‘n Griekse god in die plek van die Elohiem Yahweh te plaas, (2de Gebod). In elk geval gaan die onderhouding van die Torah, die Shabbatte en die feeste van Yahuweh verpligtend wees gedurende die 1000-jarige koninkryk – en ALMAL sal Sy naam, YAHWEH/YAHUEH/YAHUAH, ken en uitspreek.
Die wetgewer, Yahushua, sê self in Mat. 5:19 onder andere dat indien iemand die geringste wet oortree en ander ook so leer, so iemand die minste in die Koninkryk van die Hemel sal wees, “But those who teach God’s laws and obey them shall be great in the Kingdom of Heaven”. (Liv. Bible) Jy sal dan dalk deel wees van die tweede opstanding, waarvan die res van die oes deel uitmaak en waarvan jy in Open. 20: 11-15 lees.
Die mense wat dood is in Sodom en Gamorrah, Kapernaum, Betsaida, Tire, Sidon en ander plekke waarna in die Skrif verwys word, gaan in hierdie tweede opstanding ook weer opgewek word (met vleeslike liggame) en dit gaan vir hulle makliker wees as vir die Yisraeliete wat Yahushua gedurende hul leeftyd verwerp het. Lees maar net Mat. 10:15 of Luk. 10:12. Yahshua praat persoonlik self.
Die norm sal steeds wees – wie se naam is in die Boek van die Lewe opgeskrywe en wie het Yahweh se gebooie bewaar en nagekom?
En die wie se name in die Boek van die Lewe opgeskryf is, sal ook met onsterflikheid bekroon word. Maar hulle, die Torahloses, sal NIE toegang verkry tot die nuwe Jerusalem nie. Dit is die Groot Wit Troon Oordeel, die Poel van Vuur. Yahweh is ‘n verterende vuur.
Dit is vir my dan sinvol en logies dat daar inderdaad mense van Sodom en Gamorrah sal wees wat tydens die “oordeel” in die Tweede Opstanding die ewige lewe saam met Yahushua sal verkry. Oordeel is nie altyd negatief nie, maar kan onder andere loutering, lering, teregwysing, opvoeding, dissipline wat tugtiging insluit, en so meer, impliseer. Onthou hierdie is nie ‘n tweede kans nie. Daar is diegene wat weens die misleiding nooit ‘n kans kon hê nie. Maar daar is diegene wat halsstarrig weier om hul tradisies en gewoonte te los en tot Yahweh te bekeer. Hulle is dood. Hulle kans het hulle gehad.
Hierdie oordeel sal beslis onaangenaam, pynlik en uiters hartseer wees, maar dit is Yahweh se werkswyse waarvolgens ‘n iedere en elke gelowige Yahudim gelouter, en asof deur vuur heen, gesuiwer en skoon gemaak word soos wat Yahweh wil en tot Hy tevrede is met die eindproduk. Dit is nie ‘n tweede kans nie. En die eindproduk – ons moet elkeen presies soos Yahweh wees, volmaak na Sy beeld, kinders van die Allerhoogste, EWE-BEELDE VAN YAHWEH!! WOW!!
Hoor hierdie pragtige Openbaring 22:14:
“Geseënd is die wat Sy Gebooie/Torah DOEN, sodat hulle die reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte van die stad, maar buite is die honde, en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars, ……”
Ek het iemand een maal hoor sê dat die honde diegene is wat al die seëninge en voordele van Yahshua wil hê en daarvoor kom vra, maar wat nie bereid is om Sy Gebooie voluit na te kom nie. Maar dit blyk duidelik dat diegene wat toegang geweier word tot Jerusalem, duidelik die Torahloses is, en na my beskeie mening, meer pertinent diegene wat ongehoorsaam is aan al 10 die Gebooie wat deur Yahweh met Sy vinger op klip geskryf is.
Onthou Yahweh is ‘n regverdige Skepper en selfs tydens hierdie Tweede Opstanding, die Tweede Dood, sal Hy diegene wat dors het uitnooi om te kom drink van die lewende water wat slegs Hy aan hulle kan gee – volgens die profetiese simboliek van die 8ste dag van die Fees van Tabernakels. Ja, selfs diegene wat gedurende hul natuurlike lewe nog nooit die Blye Evangelie Boodskap gehoor het nie – wat in heidendom gesterf het, wat “verlore” was volgens menslike oordeel. Dit laat my baie sterk vermoed dat die 8ste dag nie uit 24 ure gaan bestaan nie, maar uit baie baie jare waartydens Yahshua Sy oordele voltooi – moontlik 1000 jaar.
YAHUSHUA IS DIE REGTER WIE GAAN OORDEEL
Yahshua gaan ons oordeel – Joh. 5:22 – en daarom kan ek nie glo dat Christene nog verkies om Paulus se uitleg van die Skrifte belangriker te ag as die van Yahshua nie – “ons is nie meer onder die wet nie”, SNERT Paulus het dit nooit gesê nie.
Die Skrif toon dat YAHWEH mense soek wie afgesonderde lewens vir Hom sal lewe, mense wie verlos en gekies is om vir Hom te werk, mense wat sodanige lewens sal lewe sodat hulle diensbaar vir Yahweh kan wees gedurende die 1000-jarige vrederyk van Koning Yahushua. Al die eersgeborenes van wie Yahshua die Eersteling is, sal gedurende die millennium instrumenteel wees in die verkondiging van Yahweh se Blye Boodskap soos saamgevat in die Wette van Moses (Torah) en Sy aparte sewe (7) Feeste met die Sabbatte. Lees 2 Kor. 6:14 – 7:1 en ook 1 Petrus 2:11-12. (Lees dit, dit kan dood of lewe vir jou beteken!!)
Nee, ek gaan dit kwoteer sodat jy dit kan lees:
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die wetteloosheid/Torahloosheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het die Messias met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van Elohiem met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende Elohiem, soos Elohiem gesê het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle Elohiem wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af sê Yahweh; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, sê Yahweh, die Almagtige. Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die afgesonderdheid (apartheid – niks met ras te doen nie) in die vrees van Elohiem vervul”. (apartheid, weg van sonde/ wetteloosheid /Torahloosheid).
En 1 Petrus 2:11-12:
“Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou (weerhou) van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad praat soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, Elohiem kan lof toebring in die dag van strafoplegging”.
Ek wil nie dogmaties wees nie, maar ek is van mening dat jy kan “kies” aan watter van die twee Opstandings jy deel wil wees. (Die Skrif sê egter uitdruklik dat dit slegs die Gees van YAHWEH is wat die mens na YAHWEH toe trek – dit nie uit homself nie – ons het Hom nie gekies nie, Hy het ons uit gekies)
Die simboliek van die Shabbat wys vir ons dat ons eenvoudig niks kan doen om gered te word en die ewige lewe te be-erwe nie!!! Die Hemelse Boodskapper het dit reeds vir ons gedoen.
Die simboliek van die Pasga dui onder andere ook dat dit, in teenstelling met die merk van die dier, die Pasga ‘n MERK van YAHWEH is wat op die voorkop en op die regterhand van Yahuweh se kinders verskyn – hulle wie Sy Pasgafees hou wat ‘n integrale deel vorm van die Fees van Ongesuurde Brode – Ex. 13:9. Die Shabbat self is ook so ‘n teken of merk van diegene wat aan Yahweh behoort.
Daar is talle geheimenisse wat opgesluit is in die profetiese simboliek van YAHWEH se sewe (7) feeste ASOOK die sewe jaarlikse Shabbat-siklusse wat die Christendom totaal en al ignoreer en miskyk en verloor – maar Moses gaan almal aankla!!.
Ek herhaal weereens – daar bestaan NIE ‘n ‘wegraping’ soos wat die Christendom of die Rooms Katolieke glo nie. Daar is net mooi niks daarvan in die Torah van Yahweh nie. Dis ‘n leerstelling direk van die satan af. Yahushua praat net van “Opstandings”. Gaan kyk hoeveel keer verwys die Messias na die opstanding op e-sword. Net in die evangelies alleen, word daar 18 keer daarna verwys. Geen verwysing na ‘n wegraping nie. Die Hebreeuse begrip van “wegneem” (taken away) beteken die vernietiging van die goddelose en onregverdiges. Dit het niks te make met die sogenaamde “wegraping” van die regverdiges nie. Die mense buite die ark van Noag is “weg geneem” (taken away). Noag en sy gesin is deur Yahweh bewaar en beskerm.
Paulus skryf vir ons in Filippense 3:20-21 dat ons burgerskap in die hemele is vanwaar ons die Verlosser, die Messias Yahushua verwag Wie ons ‘vernederde’ liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig te wees aan Sy verhoogde/verheerlikte liggaam.
Die apostel 1 Johannes 3:1-3 bevestig dit as hy ons meedeel dat ons nog nie weet hoe en wat ons sal wees nie, maar dat ons aan Hom gelyk sal wees wanneer Hy verskyn, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En almal wat hierdie hoop in hom het, reinig homself soos Hy rein is – hou homself afgesonderd soos Hy afgesonderd is, volgens die Torah.
Daar is slegs een opstanding van die regverdiges teen die begin van die 1000 jarige Koninkryk van Yahushua en daar is slegs een opstanding waarvan Openbaring praat as die tweede opstanding aan die einde van die 1000 jarige koninkryk van Yahshua. Ek het reeds verwys na Joh. 5:25-29 en dan natuurlik ook nog Daniël 12:1-3 en Openbaring 20:6. Verder bestaan daar ongeveer 300 verse oor die opstanding van die dooies in die Ou Verbondsgeskrifte.
Die groot verdrukking is bloot ‘n instrument van Yahweh om die kaf van die koring te skei. Ons wat in Yahshua glo en Sy Gebooie onderhou, sal deur die Groot verdrukking gaan. Ons sal gelouter word, ons sal gesuiwer word. Alle drek en dros sal uit ons lewens uit verwyder word. Die Bruidegom sal inderdaad Sy bruid voorberei en reinig en gereed maak om die Bruilofsmaal op die 15de Tishry, die Fees van Tabernakels, by te woon aan die sy van die Bruidegom.