Share This Page With Friends

Bookmark and Share

 

Jerusalem Time

 
 
 
 
 

Subscribe and Donate


 

 

Select Language

 

 

To return to English, press ‘Show Original’ button in upper right hand corner.  
 

WAT MOET EK DOEN OM GERED TE WORD?

The following manual (human) translations are also available.

English

 

HOOFSTUK 21
 
WAT MOET EK DOEN OM GERED TE WORD? DIE
GEHEIM VAN DIE EWIGE LEWE UIT DIE MOND
VAN DIE GESALFDE
 
Die volgende preek sal jy nooit in jou lewe in jou kerk hoor nie. Hierdie hoofstuk mag dalk die belangrikste wees wat jy nog ooit gelees het. Yahshua het dit gepredik.
 
In Mat. 19:16-30 is die kern en die geheim van die Ewige Lewe opgesluit. Die ryk jongman vra vir Yahshua: “Wat moet ek doen om die Ewige Lewe te verkry?”. kontroleer maar die Skrif self – en Yahshua antwoord die man persoonlik direk, op die man af: “.. as jy die Ewige Lewe wil ingaan, onderhou die gebooie”  - (nie net een, twee of die wat jou leefstyl pas nie – die gebooie, al tien van hulle – lees verder wat Yahshua self sê).
Onmiddellik vra die man vir Yashua: “Watter gebooie bedoel u?
Die Joodse rabbis het destyds soveel menslike wette/gebooie gehad (die sg. ‘oral traditions’ soos vervat in die Talmudiese wette) en hy wil net seker maak dat daar nie 'n misverstand is nie.
 
Yahshua antwoord hom deur die laaste helfte van die Tien Gebooie op te noem soos “Jy mag nie moord….., jy mag nie egbreuk….., jy mag nie steel ….., jy mag nie valse getuienis….., eer jou vader en jou moeder  EN(LET OP waarmee sluit Yahshua af) jy moet jou naaste liefhê soos jouself" – een van die twee fondamente wat die grondslag van die Torah uitmaak – die Liefde vir Yahweh en die liefde vir die naaste. 
 
Yahshua sluit die lysie af deur vir hom direk uit die Ou Verbond uit te kwoteer, Lev. 19 - wat die hele bedoeling van die Tien Gebooie saamvat en die belangrikheid van die res van die Gebooie bekragtig. Onthou hierdie twee beginsels vorm die basis, die fondamente waarop die tien gebooie rus – die kapstok waaraan die res van die Torah hang!!
Hierdie man antwoord Yashua dat hy inderdaad al die gebooie onderhou het, d.w.s. ook die Shabbat. MAAR hierdie ryk jongman het nie werklik al die gebooie onderhou nie, al het hyself in opregtheid gedink dat hy wel almal onderhou het. Yahshua weet dit en Hy wys dit vir die man deur aan hom ‘n snaakse versoek te stel.
 
In die verlede het ek die hele punt gemis. Ek het gedink dit gaan bloot oor sy geld!! Hierdie ryk jongman het ‘n AFGOD gehad wat hy liewer gehad het as sy Skepper Elohiem – dit was sy geld!! EN daarom het hy die eerste van die twee beginsels (die fondamente) oortree waarop die Tien Gebooie berus en daarmee saam die 2de Gebod: “Jy mag geen ander el (behalwe Yahweh) voor My hê nie”.  Maar hy het dit NIE besef NIE.
 
Yahshua wys dit uit aan hom deur hom 'n versoek te stel wat hy (op daardie stadium) nie bereid was om na te kom nie: “Raak ontslae van die afgod in jou lewe!”. (My parafrasering)
 
Dit het glad nie daaroor gegaan dat Yahshua wou hê dat die man inderdaad sy goed moes verkoop en die geld aan die armes gee nie!!! NEE!! Dit het niks daarmee te doen gehad nie. As hierdie man inderdaad sy Skepper Elohiem, YAHWEH, lief gehad het met sy hele hart, en sy hele siel en sy hele verstand, sou hy dadelik bereid gewees het om sy goed te verkoop, die geld vir die armes te gee en om vir Yahshua te volg. Dan sou Yahshua dit nie nodig geag het om vir hom te sê: “Raak ontslae van die afgod in jou lewe.” (my eie vrye parafrasering)
 
WANT hierdie ryk jongman het sy besittings liewer gehad as sy Skepper Elohiem en derhalwe die eerste van twee beginsels misken, deurdat hy ‘n ander god, ‘n afgod met die naam mammon, anders as sy Skepper Elohiem Yahweh, in sy lewe gehad het – sy geld. Hy het onbewustelik die 2de Gebod oortree.
Oorlewering wil dit hê dat hierdie ryk jongman eintlik Josef van Arimathea was. Ons weet dat hy ‘n tin-handelaar was met myne in Engeland en Afrika en dat hy skatryk was. Hy kon dus die splinternuwe graf in die tuin voorsien vir Yahshua se begrafnis. Dit blyk dan dat hy inderdaad wel die afgod in sy hart uitgeruk, Yahweh eerste gestel het en dat dit toe nie nodig was vir hom om sy besittings te verkoop en die geld aan die armes te gee nie. Yahshua het niks teen geld nie, mits dit nie ‘n afgod is nie.
 
DIE TIEN GEBOOIE IS DIE INLEIDING TOT DIE EWIGE LEWE
 
Die BELANGRIKSTE punt wat Christendom mis in hierdie gedeelte van Mat. 19:16-30, is die feit dat Yahshua pertinent en duidelik na die tien gebooie verwys as die VERTREKPUNT of INLEIDING of DIE DEUR of DIE POORT vir diegene wat die ewige lewe wil hê.
 
Dit beteken dat die tien gebooie nog steeds vandag vir ons wesenlik essensieel en toepaslik is en dat ons dit nie kan weg redeneer soos die skrifgeleerdes in die Christendom dit vandag probeer doen nie. Hierdie skrifgeleerdes uit die Christendom weet:
 
  • dat hulle Sy eie en persoonlike Naam oneer aan doen deur dit te vervang met ander afgodstitels, 
  • dat sondag die dag van die songode is,
  • dat kersfees ‘n afgod feesdag is,
  • dat paasfees soos die Christendom dit vandag vier, ‘n afgodsfees is,
  • dat die Feesdae van Yahweh en die Shabbat (Lev. 23) deel is van YHWH se voorskrifte,
  • dat die oorspronklike Evangelie soos dit in die boek van Handelinge beoefen is, totaal verskil van die evangelie van die hedendaagse Christendom.
 
JA, MAAR PAULUS Sê: “Ons is nie meer onder die wet nie”. Ag asseblief, ek argumenteer nie eens meer met iemand wat so ‘n Christelike/heidense mentaliteit openbaar nie. Die TIEN GEBOOIE is on-onderhandelbaar. As hulle saam met “jesus” teen die kruis vasgespyker was, moet jy dan maar aanvaar dat hulle ook saam met hom opgestaan het.
AS DIE GEBOOIE SAAM MET ‘JESUS’
 TEEN DIE KRUIS VAS GESPYKER WAS,
 MOET JY AANVAAR
DAT HULLE OOK SAAM MET HOM OPGESTAAN HET
 
Maar het so ‘n “wedergebore” christen al daaraan gedink dat daar meer as 1000 gebooie in sy hernieude testament is wat hy veronderstel is om te onderhou. Is hy nie ook maar “onder die wet” nie? As daardie “wedergebore” christen die Torah van Yahweh verwerp, verwerp hy inderdaad die Lewende Torah, die Messias Yahshua, die pasga-offerlam self.
Die hoofsaaklik betaalde predikers, gesalarieerdes, wat die misleiding verder bevestig en probeer regverdig deur menslike interpretasies. Hulle predik dat Yahweh se Wette nie langer van toepassing op ons is nie. Die Torah was slegs bedoel vir antieke Yisrael. Ons leef nou onder die genade en nie meer onder die Wet nie. Hulle predik dat dit wetties is vir Christene om gehoorsaam te wees aan die Torah en dat dit gebondenheid beteken.
Hulle stel die LIEFDE en vergifnis van Yahweh as die belangrikste doel en as die kern waarna alle Christene moet strewe. Hulle vergeet egter dat die Wet van die liefde juis die hart, en die kern en die totale fondament van die Torah daarstel – dis die kapstok vir die res van die Torah. Jy kan nie net ‘n fondasie hê sonder die gebou nie.
 
Joh. 1:1 sê vir ons uitdruklik dat Yahshua die Woord/Dabar/Torah is en dat Hy in die begin by Elohiem was. Die Torah van Moses was die Woorde wat uit Elohiem Yahweh se mond gekom het tot Moses en wat hy op skrif gestel het. Dit was ‘n huwelikskontrak wat Yahweh met die Yisrael volk aangegaan het – ‘n kontrak wat vandag nog bindend is.
 
As jy die Woorde van Yahshua summier wil uithaal en verklaar dat die Torah nutteloos en van geen praktiese belang is, dan skeur jy inderdaad Yahshua se Woord/Torah/Dabar uitmekaar.  Jy rand letterlik die Skepper Elohiem aan en ruk Sy Woorde uit Hom uit en trap daarop. Jy kan nie die Torah skei van Yahshua nie. Die Torah en Yahshua is EEN (Echad).
MAAR hulle ignoreer en hou steeds vandag vol met ‘n ANDER EVANGELIE wat volgens die nuwe Verbondsboeke blyk reeds lank voor Konstantyn se tyd begin verkondig was – Sien Galasiërs 1:6-9.
 
Petrus was so reg toe hy ons gewaarsku het dat mense Paulus se standpunte verkeerdelik vertolk en verkeerd uitlê – hulle doen dit met die res van die Skrif ook – 2 Pet. 3:15 – en dit tot hul eie ondergang.
En dit is vandag nog net so waar. Vandag is die heidense Christendom in ‘n maalkolk van verwarring. Gaan praat maar met enige deursnee lidmaat van enige “christelike kerk”.  Die arme mense is verward, hulle is onkundig in hul soeke na die waarheid – dit is mense wat kwansuis behoorlik gekatkiseer en aangeneem is, maar wat verkeerd geleer was.
Verwys hulle na Mat. 19 en die konsekwensie van die leerstelling van Yahshua en hulle reken jy is van lotjie getik. Vir hierdie mense is dit ‘mind boggling’. Hulle sal almal ‘n 180 grade omkeer/bollemakiesie bekering (teshuva) moet maak indien hul enigsins die ewige lewe wil hê EN dan sal hulle Die Wet van Yahweh wat vir hulle die inleiding of vertrekpunt tot die ewige lewe is, moet begin volg en onderhou uit dankbaarheid uit vir die OFFERANDE wat Yahshua was.
 
Hierdie is die gebooie waarna die Skrif verwys – Hierdie is die Wet van Yahweh of meer korrek vertaal, Sy “leringe” en “instruksies” wat direk uit die hemel self kom.
As jy die WET van Yahweh NIE nakom nie OF dit NIE onderhou nie OF ignoreer, OF OORTREE, dan is jy WETTELOOS. En om WETTELOOS te wees, beteken jy doen SONDE.
 
Die Torah (die eerste vyf boeke van die Ou testament) sê dat:
  • jy jou moet bekeer tot Yahweh/Yahshua – Hy is die enigste,
  • jy wedergebore moet word, ‘n besnydenis van die hart moet ondergaan wat van Bo plaasvind, Deut. 16:10,
  • jy sal glo in Yahshua die Gesalfde want hy wie in Hom glo het al reeds van uit die dood oor gegaan in die lewe,
  • jy Hom, YAHWEH, moet lief hê met jou hele hart, met jou hele siel, en met jou hele verstand EN jou naaste soos jouself (volgens Yashua se voorbeeld),
  • jy Sy Gebooie almal moet onderhou wat insluit die 1ste en 2de gebod wat in die vorige reël vervat is,
  • jy Sy Feeste soos omskryf in Lev. 23 moet onderhou saam met die Shabbat,
  • jy Sy Naam moet respekteer en eer en lief hê (3de gebod),
  • jy Sy Sabbat moet gedenk en onderhou (4de gebod),
  • jy die res van die morele Gebooie van die Wet van YHWH sal onderhou en
  • jy sal toelaat dat die Gees van Yahweh Sy wette op jou hart sal skryf en in jou verstand sal inprent (5de-10de gebod).
 
Hierdie is die gebooie waarna die Skrif verwys – Hierdie is die Wet van Yahweh of meer korrek vertaal, Sy “leringe” en “instruksies” wat direk uit die hemel self kom.
 
Suig ek dit uit my duim uit? 1 Johannes 3:4 sê so duidelik as daglig:
“…Sonde is immers die oortreding van die Wet van Elohiem/Torah van Yahweh.”
Johannes sê dat elke keer wanneer jy sonde doen, oortree jy die Wet van Elohiem. Gaan dink maar aan enige immorele daad – lustige begeertes, bedrog, verkragting, noem maar op en die laaste 5-10 gebooie is dadelik ter sprake en die betrokke daad kan daarin geklas word. Dis die een been.
MAAR Gebooie 1-4 is mos ook relevant en moet mos ook onderhou word. Dis die ander been – onbegrensde liefde vir die Skepper.
Jy moet Yahweh jou Elohim lief hê met jou hele hart, jou hele verstand en met jou hele siel, met alles wat in jou is EN jou naaste soos jouself. Hoeveel keer gebeur dit dat jy hierdie gebod gedurende die dag oortree?
Hoeveel keer respekteer jy nie die Aparte en verhewe afgesonderde Naam van Yahuweh nie? Hoeveel keer is Hy NIE die belangrikste Wese in jou bestaan, jou denke, jou verstand, jou hart NIE?
Hoeveel keer word Hy vervang met ander “afgode”? Baie keer weet ons dit nie eens nie, net soos die ryk jongman ook. 
Hoeveel keer beledig ek nie die Skepper Elohiem onwetend nie omrede ek uit onkunde uit valse dwaalleringe verkondig, bv. dat sondaars vir ewig in ‘n helse vuur gaan brand en gaan kners op hul tande. Hierdeur verneder ek die Skepper God tot ‘n wrede, liefdelose, tiranniese monster en ‘n sadis – erger as Hitler of Suddam Hoesein. Dit omrede ek valse heidense leerstellinge geleer is en dit steeds blindelings glo!!?? Hoeveel keer is ek nie so lief vir my broer soos ek vir myself is nie? Hoeveel keer vervang ek Sy enigste en Persoonlike Naam sommer met ‘n afgodstitel?
 
En die 4de Gebod – Gedenk die Shabbat en onderhou dit! Wat daarvan? Nee wat, hierdie gebod kan ons onder die mat in vee, want my dominee sê dat dit nie meer vandag belangrik is nie. “Ek kan nou elke dag of selfs enige dag as ‘n Shabbat hou, sê hy vir my. Maar hy ken nie eens die inhoud van Gen.2:3 nie. Die dag is (1) geseën en (2) afgesonder – twee afsonderlike handelinge deur die Skepper. Twee afsonderlike handelinge dominee!! Nou wie de swerkater is jou dominee’tjie of pastoortjie dat hy homself die reg toe-eien om Yahweh se Wette te verander? Omdat hy ‘n graad of twee het?  Het Yahshua hom die reg gegee? Hy maak van homself ‘n god of hy plaas homself in die sitplek van Elohiem – klink bekend nê!! En as jy hom glo bo die Woord van Yahweh, dan is hy jou afgod en is jy besig met afgodediens. Yahweh dink net mooi niks van die menslike kennis en/of wysheid nie. Jer. 51:17 sê Hy “Elke mens is dom, sonder kennis”.
 

 

 

Kom ons laat die Skepper/Wetgewer persoonlik Self praat in Mat. 5:17-18:
Moenie dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete ongeldig te maak nie (af te skaf nie). Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie (af te skaf nie), maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder verbygaan as dat een letter of letterstrepie van die Wet sal wegval voordat alles voleindig is.
 
My nederige opinie is dat ons geen keuse het wat betref die dekaloog nie. Ons MOET al tien gebooie van Yahweh gehoorsaam en dit nakom – dis nie onderhandelbaar nie.
 
Maar daar is talle ander wette/instruksies vervat in die Torah wat ons vandag nie meer kan onderhou in die volle ware sin van die woord nie, maar onderhou kan ons.
 
Ek kan nie meer die offerandes na die Tempel toe bring en dit vir Yahweh offer nie. Maar omdat die priesterdom verander het en ons nou onder die priesterskap-sisteem van die orde van Melgisedek (Yahushua) val, kan ek gereeld daagliks steeds my offergawes bring soos Rom. 12:1 voorskryf. Sien weer daardie gedeelte oor die offerandes gedurende die nuwemaan-feeste!
EN ek kan die Levitikus 23 Feesdae, die gewyde afsprake wat Yahweh vir Sy kinders op skrif geplaas het, onderhou en nakom. Hoekom? omdat ek moet of omdat ek wil?
Omdat ek wil, want ek het Hom lief met my hele hart, my hele siel, my hele wese. Daarom wil ek Sy gebooie in die Torah nakom. Daarom wil ek die dagloner sy loon aan die einde van die werkdag betaal sodat sy loon nie deur die nag by my is nie; daarom wil ek nie rente vra as my broer by my geld leen nie; daarom wil ek nie vark eet nie (al is dit hoe lekker) omdat ek in die Torah en die profete lees dat Yahweh dit verafsku – en alles wat Hy verafsku, dit wil ek ook verafsku. OMDAT Hy Sy Gebooie motiveer met “EK IS YAHWEH”.
 
Ek wil Sy vyande, satan haat omdat Elohiem Yahweh hom verfoei. As ek in die Torah lees dat ek, as vrou, my hoof moet bedek omdat ek Yahweh daardeur eer en respekteer, dan doen ek dit sonder argumente omdat ek Hom daardeur kan behaag, omdat ek Hom lief het – nie omdat ek moet nie. Die onderhouding van enige gebooie vind plaas uit dankbaarheid uit. Yahshua het op die folterpaal vir my ongeregtighede en my sondes gesterwe sodat Hy my met Elohiem Yahweh kon versoen en ek die ewige Lewe daardeur kan verkry.
As ek tzitzit (tossels) wil dra omdat Yahweh dit gelas in Numeri 15:37-41 en Deuteronomium 22:12, doen ek dit omdat ek dit wil doen en nie omdat ek MOET nie – omdat ek Hom lief het en omdat ek sodoende MYSELF herinner aan Sy Torah en Sy Messias wat aan die folterpaal vir my gesterf en geoffer is.
Ek hoef my nie te laat besny nie, want die Ruach Hakodesh het my innerlike reeds besny, maar as ek persoonlik dink dat ek Yahweh graag sal wil behaag deur my te laat besny, dan doen ek dit – maar ek durf nie my mede Yisraeliese broer ook motiveer om dit te doen of veroordeel as hy weer op sy beurt dink dat hy Yahweh nie daardeur sal behaag nie. Maar, sou ek ‘n seun ryker word, sal ek hom op die 8ste dag laat besny omdat ek Yahuweh lief het en Sy instruksies wil gehoorsaam.
 
Die Restoration Scriptures, “True Name Edition”, vertaal hierdie twee verse, Mat. 5:17-18 as volg:
Think not that I am come to weaken, or destroy the Torah, or the nevviim; I have not come to weaken, or destroy, but to completely reveal it in it’s intended fullness.
 
Dit word sommer dubbel herhaal om gewig daaraan te gee. “For truly I say to you, Until the current shamayim and earth pass away, not one yud, or one nekudah shall by any means pass from the Torah, until all be fulfilled.
Dit beteken dat hierdie ou aarde en die ou hemel soos ons dit ken inderdaad sal verbygaan. Maar Yashua sê egter vir ons dat die Wet, die Torah, die leerstellinge van Moses soos hy dit van Yahweh ontvang het, sal BLY staan en van krag sal wees en geldig sal bly TOT NADAT die bestaande hemele en die aarde vergaan en hernu is.
En dit is so belangrik vir Yahshua dat die gelowige Sy Wette sal onderhou dat dit belangrike gevolge vir die gelowige gaan hê in die Koninkryk van Yahuweh. In vers 19 waarsku Hy:
Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel.
Of jy (of ek) gaan in guns wees by Yahshua in Sy hemelse koninkryk of jy (of ek) gaan in onguns by Hom wees. Wat kies jy?
 
Yahshua waarsku ons dat Moses ons gaan oordeel in die oordeelsdag. Moses? Ja die Torah, en die Tien Gebooie. Gaan lees maar self Joh. 5:45. Yashua praat baie duidelik.
Hy het gekom om die Ou Verbond “te vervul”. Dit beteken bloot dat Hy groter en nuwer betekenis aan die Ou Verbond kom gee het. Yashua self het byvoorbeeld nie net die Tien Gebooie letterlik onderhou nie, maar Hy het ook boonop ‘n geestelike dimensie en inhoud aan elkeen kom verleen.
Hy het die geestelike betekenis van elkeen kom omskryf en verduidelik. Yashua verduidelik dat ongeregverdigde of onredelike woede in jou binneste gelyk is en dieselfde is as die daad van moord. (Mat. 5:21-22). Yahshua verduidelik dat die blote begeerte na ‘n vrou, alreeds egbreuk daarstel, sonder die daad self. (Mat. 5:27-28). Yahshua het die Torah van die Ou Verbond op ons harte kom skryf.
 
DOEN JY WAT YAHUWEH BEHAAG
OF IS DIT NET LIPPEDIENS? VOORGEE?
 
Yahuweh se leringe en instruksies is so belangrik, so essensieel, so totaal ONonderhandelbaar dat Hy vir ons sê Hy stel nie belang in ons lippediens nie maar in ons handelinge/dade.
In Mat. 7:21 sê Hy:
Nie elkeen wat vir My sê ‘Meester, Meester’, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar NET hy wat die wil DOEN van My Vader wat in die hemel is”.
En in vers 23 dreig Hy duidelik dat Hy so sal reageer:
Dan sal ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie, Gaan weg van My af, JULLE WAT DIE WET VAN ELOHIEM OORTREE of JULLE wat die ongeregtigheid bedryf of JULLE wat TORAHLOOS IS”.
 
GEHOORSAAMHEID AAN DIE WET VAN ELOHIEM
IS NIE ‘N OPSIE NIE
Wanneer jy die dag bekeer, beteken dit dat jy moet begin om AL Yahuweh se Wette te onderhou en te gehoorsaam, WANT sonde is die verbreking of oortreding van daardie Wette (1 Joh. 3:4). Waar jy vantevore nie Torah geleef het nie, moet jy nou begin Torah leef. Dit is bekering/teshuva.
 
Baie mense maak SELEKTIEWELIK gebruik van Paulus se briewe om te leer dat hy teen die Wette van Yahuweh gepredik het. Maar in 1 Kor. 7:19 maak Paulus een van die kragtigste en duidelikste argumente ten gunste van die gehoorsaamheid aan God se Wette.
Hy vergelyk die voordele van die besnydenis met die voordele van Yahuweh se Wette. 
Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van Yahuweh onderhou”.
 
Ander vertalings uit Engels uit lui:
Besnydenis is niks, en onbesnydenis is ook niks, maar wat belangrik is, is om die Gebooie van Elohiem te gehoorsaam
en OOK die Revised Version:
OM DIE WETTE/GEBOOIE/TORAH VAN ELOHIEM TE GEHOORSAAM, IS ALLES”.
 
Paulus verklaar in Hand. 24:14
Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die Elohiem van my vaders  dien, terwyl ek ALLES glo wat in die Torah en in die profete geskryf is, en ‘n hoop op Elohiem het, ‘n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ‘n opstanding sal wees van regverdiges sowel as onregverdiges
 
Ons het reeds gesien Johannes leer dat sonde = die oortreding van die Wet van Elohiem (1 Joh.3:4) Johannes beskryf die gelowiges ook as diegene wat die Gebooie van Elohiem onderhou/gehoorsaam en in Yahshua glo. Dit is eintlik so verskriklik eenvoudig.
1 Joh. 2:2-4 sê Johannes
Hy is die versoening vir ons sondes (Torahloosheid); en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir die Torahloosheid (sondes) van die hele wêreld. As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. Iemand wat sê: ’Ek ken Hom,’ maar nie Sy gebooie gehoorsaam nie, is ‘n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie.
 
Kom ons vervang die begrip “sonde” met “oortreding van Elohiem se Wet” of met “wetteloosheid”. En dan interpreteer ons dieselfde verse weer:
“Hy is die versoening vir ons oortredings van Elohiem se Wet; en nie net vir ons oortredings van Elohiem se Wet nie, maar ook vir die oortredings van Elohiem se Wet van die hele wêreld.”
OF
“Hy is die versoening vir ons wetteloosheid; en nie net vir ons wetteloosheid nie, maar ook vir die wetteloosheid van die hele wêreld.” Dit maak verskriklik sin.
 
Ons weet een ding verseker – geen mens kan AL die Gebooie van God onderhou nie – nou wat nou?? Die wat ek kan onderhou, die sal ek onderhou – maar as ek nou “gly en val” en ek oortree ‘n Gebod? Wat nou? 1 Joh. 1:9 sê egter vir ons:
“Maar as ons ons oortredings van Elohiem se Wette (wetteloosheid) BELY, Hy is getrou en regverdig om ons ons oortredings van Elohiem se Wette (wetteloosheid) te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
Is dit nie bevrydend nie!?
 
‘n Messiaanse gelowige Tony Robinson maak ‘n helder onderskeid tussen geloof aan die eenkant en geloof + werke aan die anderkant. Sien sy volledige briljante artikel “The Restoration of Torah”. In die Skrif is daar oënskynlike teenstrydige teksverse omtrent geloof en werke. Oënskynlik, klaarblyklik, want dit is nie teenstrydig nie.
Die Skrif stel dit dat redding geskied deur geloof.
Ø Romeine 3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Ø Efesiërs 2:8-9 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
 
Die Skrif stel dit dat redding geskied deur die werke.
 
Ø Jakobus 2:21 “Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?”
 
Ø Jakobus 2:17 “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.”
 
Ø Jakobus 2:24 “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?”
 
Met die eerste oogopslag lyk dit asof hierdie teksverse mekaar weerspreek. Ons westerse maniere van redeneer begin onmiddellik om kant te kies. Martin Luther het “sola fides” (redding deur geloof alleen) gekies. Augustinus het “die werke” gekies. Wie is reg? Tot ‘n mate is albei reg.
Die konteks waarbinne hierdie skrywes plaasvind, dui daarop dat beide skrywers na sowel die geloof as die werke verwys soos wat dit toepassing vind in die lewe van ‘n gelowige in twee afsonderlike fases van volwassenheid.
Paulus lê klem op die heel eerste kontak in die verhouding tussen Yahweh en die gelowige – wanneer die gelowige vir die eerste maal “glo” in die Messias Yahshua, wanneer hy die Messias as Sy Verlosser aanneem, wanneer hy as sondaar skuldbelydenis doen.
Jakobus weer, lê klem op die manier, die wyse waarop die gelowige sy geloof uitlewe in die praktyk.
Die Skrif praat ook van twee tipes geregtigheid:
 
  1. “Gedragtelike /gedragsgeregtigheid” (behavioral righteousness) die regverdige dade/handelinge wat ‘n persoon verrig; (dit is die onderwerp waarmee Jakobus handel) en
 
  1. “Forensiese geregtigheid” (geregtelike geregtigheid)(forensic righteousness) om geregverdig te wees in die sin dat Yahweh jou van alle skuld vrygespreek het, jou sonde vergewe het en jou ‘nuut’ gemaak het. (Dit is die onderwerp waarmee Paulus handel).
 
Ekself het pas onlangs met hierdie onderskeidende konsepte kennis gemaak en dit is asof ‘n helder lig vir my opgegaan het. Nou begryp ek hoe dit in die praktyk werk en kan ek dit intellektueel verduidelik. Maar ons Nasareners het dit outomaties uitgeleef en gedoen, deur die groot guns van die Allerhoogste Yahweh en Sy Seun Yahshua.
   
Hieronder volg meer Skrifte wat handel oor     “gedragsgeregtigheid”
 
Ø Openbaring 19:8 “En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.”
 
Ø Jakobus 1:20 “Want die toorn van ‘n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie”.
 
Ø Mat. 5:19-20 “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.”
 
Ø 1 Tim. 6:11 “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”
Let daarop dat die konteks waarbinne Jakobus sy brief skryf, het nie betrekking op die forensiese geregtigheid van die gelowige nie. Dit is gerig op die uitleef van jou geloof in ‘n praktiese wyse. Om net te beweer “ek glo”, het geen praktiese betekenis nie. Jy moet Torah doen ook.
Net omdat dit lyk asof die Skrifte mekaar weerspreek, is geen rede waarom jy kant moet kies nie. Bepaal eerder hoedat die oënskynlike weersprekings met mekaar kan harmonieer.
Daar bestaan dan nou geen rede hoegenaamd waarom jy nie Yahweh se Wette, Sy Torah, soos Hy dit vir ons gegee het, sal onderhou nie!!
 
As jy NIE Sy wette onderhou nie, lieg jy as jy beweer jy ken Hom – dit is Johannes wat so sê, nie ek nie, so gaan sorteer dit met hom uit.
Hy sê verder in Openbaring 22:14 (JO!! Dis die vrotste vertaling wat ek nog teëgekom het in die 1983 Afrikaanse Bybel) Kom ons kyk dan eerder na die KJV:
Blessed are they that DO His commandments, that they may have right to the tree of life, and may enter in through the gates into the city
En die Woord en Getuienis sê presies dieselfde:
“Geseënd is diegene wat Sy Gebooie DOEN, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe EN ingaan deur die poorte van die stad”.
 
DIE SKRIF HET GEPRAAT. Want as jy sê jy het Hom lief, dan LIEG jy, as jy Sy Gebooie/Torah nie onderhou nie. WOW!
 
 
 
 

The following manual translations are also available. If you can improve on the existing translation, please send it to servant@nazareneisrael.org. Thank you.


English
 
Copyright 2010 by Stick of Ephraim | Terms Of Use | Privacy Statement