HOOFSTUK 4
WAT IS DIE NAAM VAN DIE ELOHIEM VAN DIE
BYBELSE GESKRIFTE?
Die aanhangers van die “Christendom” weet oor die algemeen nie wat hul “GOD” se eie en enigste persoonlike naam is nie vanweë die demoniese bedrog en misleiding wat in die verre verlede en tans steeds plaasvind.
Die stryd van die Nasareense Torah-onderhouers en gelowiges in Yahushua, (die vlees-geworde Elohiem van die geeste), is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis. Teen die bose geeste en demone in die lug. Hulle is werklikhede wat nie in jou verbeelding bestaan nie. Hulle het alles probeer om die Naam van die enigste Elohiem van die heelal weggesteek te kry en te vernietig, en die predikante en pastore speel saam om hulle te help. Vandag be-aam predikante en pastore die name van Yahuweh en Yahushua, maar sê hulle, “dit is Joodse name wat ons nie hoef te gebruik nie”. IGNORAMUSSE, wil nie sien nie en wil nie hoor nie. Hulle is reeds verblind soos ons in hoofstuk 2 gelees het.
Wat is die persoonlike en eie naam van die Skepper van die heelal? Die Elohiem (God) van die Geeste, die Elohiem van Abraham, Isak en Jakob, die Elohiem van Israel? Die “Ek Is” van wie ons in die Ou Verbond in die Skrif lees? Wat is Sy naam?
Ironies genoeg word dieselfde vraag gevra in Spreuke 30:4 waar Salomo verwys na die grootsheid van die Skepping en hy die vraag stel wie die Skeppers is.
“WAT IS SY NAAM EN WAT IS SY SEUN SE NAAM?”
Die Skepper het baie beskrywende titels wat Sy karaktertrekke en eienskappe beskryf. Baie mense dink dit is Sy name en dat Hy baie name het. Selfs predikante maak dikwels hierdie fout. Hier volg enkele van hierdie beskrywende titels maar wat nie Sy eie persoonlike Naam is nie. Onthou dit.
Yahweh-Elohim – ons Almagtige wie se naam Yahweh is.
Yahweh-Adonai – Yahweh ons Meester
Yahweh-jireh – Yahweh sal voorsien
Yahweh-nissi – Yahweh ons Banier
Yahweh-rapha – Yahweh ons Geneesheer
Yahweh-shalom – Yahweh ons Vrede
Yahweh-tsidqenuw – Yahweh ons Geregtigheid
Yahweh-mekaddishkem – Yahweh ons Regverdiging
Yahweh-tsevaoth – Yahweh van die Leërskare
Yahweh-shammah – Yahweh is Teenwoordig
Yahweh-Elioym – Yahweh die Allerhoogste
Yahweh-rohi – Yahweh my Herder
Yahweh-hoseenu – Yahweh my Maker
Die persoonlike eie Naam van die Skepper is bykans 7000 keer in die Hebreeuse Ou Testament vervang, deur vertalers met substituut name en titels.
Exodus 3:14 is die aanloop tot die belangrike openbaring van die eie persoonlike naam van die Skepper Elohiem aan Sy profeet Moses. Hy sê: “Eyeh asher eyeh” (Hebreeus) “Ek is dit wat Ek is”, afgelei van “hayah” wat beteken “om te wees, om te bestaan – Ek is, Ek was”. In die Aramese teks wat baie na is aan die Hebreeus self, lees dit “Ayah ashar ayah”. Dit is nie sy Naam nie, maar ‘n verduideliking wat lei tot Sy Naam in vers 15.
In Exodus 3:15 word ons meegedeel, en jy kan dit kontroleer en toets met vertalings uit die Hebreeuse Tanach (Ou Testament), die Dooie Seerolle en ook die Aramese Peshitta:
“So moet jy vir die kinders van Israel sê: YHWH (YAHWEH), Elohiem (God) van jul vaders, Elohiem van Abraham, Elohiem van Isak en die Elohiem van Jakob het my na julle toe gestuur: DIT IS MY NAAM VIR EWIG en DIT IS MY NAAM WAARMEE EK AANGEROEP MOET WORD VIR ALLE GESLAGTE”.
Onthou Moses het in Egipte groot geword, skool gegaan en seker die beste tersiêre opleiding denkbaar gehad. Hy was immers ‘n prins en volgens oorlewering sou hy die volgende troon opvolger van die Faro wees. Moses was ook bekend met al die ander gode wat in Egipte en die omliggende nasies aanbid en gedien was. Hy het geweet wat hulle name is. Hy was selfs bekend met hul towerkunste. Toe Moses dus konfronteer word deur Yahweh, wou hy net seker maak wie presies die El (god) is wat met hom praat, Wie hom hierdie opdragte gee.
En asof die voormelde nie genoeg was nie, kom die Almagtige Skepper van die heelal en Hy bekragtig Sy eie Naam in Exodus 20: (2) “Ek is YHWH (YAHWEH) jou Elohiem wie jou uit Egipteland, uit die land van slawerny uit gely het. (3) Jy mag geen ander magtiges (gode) voor my aangesig hê nie ”.
DIE SKEPPER SKRYF SY EIE PERSOONLIKE NAAM
MET SY VINGER OP DIE KLIPTAFELS
Die Almagtige Skepper van die kosmiese heelal skryf Sy Eie Persoonlike naam, YHWH in die oudste paleo Hebreeus, (HWHY), (YOD, HEY, VAV, HEY), met Sy Vinger op die kliptafels. Hy doen dit self, dis nie Moses wat skryf nie. Dit is Sy Naam vir ewig en altyd. Die Koning van die heelal, die Wetgewer het weereens Sy Naam bekend gemaak – hierdie keer op swart en wit”, gegraveer in klip, IN SY EIE HANDSKRIF en boonop het Hy die hele Tien Woorde ook nog op die kliptafels uitgeskryf – twee keer na mekaar!!
EN DAN, SAAM MET hierdie koninklike dekreet: “Ek is YHWH (YAHWEH) jou Elohiem wie jou uit Egipteland, uit die land van slawerny uit gely het. Jy mag geen ander magtiges (gode) voor my aangesig hê nie”, voeg Yahweh by in Hosea 13:4 “…., ja BUITEN MY is daar GEEN VERLOSSER NIE”. Hy verklaar inderdaad Hyself is die enigste Verlosser van Yisrael. Daar bestaan geen ander Verlosser nie!!! Hierdie openbaring trek die draad deur na die Messias Yahushua van die Nuwe Verbond!! “Jy mag geen ander god(e) voor My (Yahweh) se aangesig hê nie”. Ek is die enigste Verlosser = Yahushua. Yah is verlossing. Ek is Yahushua!!! Sien hoofstuk 5 vir meer aangaande hierdie geheimenis.
EK IS YAHWEH!
BUITEN MY IS DAAR GEEN VERLOSSER NIE
Die naam van die Skepper Yahweh was ook bekend onder die nasies en die volkere van daardie tyd. Hulle het geweet wie is die Yisraelitiese Elohiem en wat Sy naam was – dit was openbare kennis – hulle het geweet Hy trek saam met Yisrael as ‘n vuurkolom snags en as ‘n wolkkolom bedags.
Die Skepper Yahweh se persoonlike eie naam was alreeds aan Adam en Chavah (Eva) bekend gewees. Die ‘geleerde’ predikante kwoteer Exodus 6:3 om verkeerdelik te probeer aandui dat Yahweh se naam nooit van tevore aan die voorvaders bekend was nie. Weereens steun hulle op foutiewe inligting en ‘n vals grondslag wat die gevolg is van foutiewe vertaling en interpretasie deur die vertalers. Die Hebreeus is dood gewoon in die vorm van ‘n retoriese vraag en impliseer dat dit ‘n gevestigde feit was dat Sy Naam bekend was onder die kinders van Yisrael. Maar ons predikante weet dit nie en daarom steun hulle verkeerdelik daarop. Abraham, ons Hebreeuse voorvader het so vroeg as in Gen. 12:8 en 13:4 reeds die naam van YHWH aangeroep. En gaan kyk maar na die Hebreeuse teks in Strongs, die naam van Elohiem is YOD, HEY, VAV, HEY – YHWH – (hfhi) in moderne Hebreeus, binne in daardie bepaalde teksverse.
YHWH – die Hebreeuse tetragrammaton, (hfhi) YOD, HEY, VAV, HEY,vier konsonante, wat die Naam van die Skepper-Elohiem uitbeeld – word foneties uitgespreek YAHUWEH of YAHWEH of YAHUEH of YAHUAH. En dit is so ironies dat ondanks die feit dat vertalers hierdie Naam van YAHWEH vir bykans 7000 keer in Engelse vertalings weg gesteek of vervang het met mens gemaakte afgodstitels, die Skepper Elohiem uitdruklik verklaar het dat Sy Naam, YAHWEH, die enigste ewige Naam is, ongeag watter taal die gelowige praat. Ek het nog geen swart persoon teengekom wat nie die Skepper se Hoogverhewe naam foneties herkenbaar kon uitspreek nie. Selfs ‘n kind kan. Ek het onlangs ‘n Chinese dame die suiwer fonetiese klanke van YHWH en Yahushua hoor sê. Haar Afrikaanse man het tussen my en haar getolk.
Dit is baie duidelik dat Hy nie Sy eie persoonlike Naam geheim wou hou nie. En die Naam van Sy Seun, Yahushua, verskyn bykans 70 keer in die Ou Verbondsgeskrifte.
Die naam van die Messias bevat die identiese konsonante wat in die Naam van die Vader voorkom – יהושע
As jy van regs na lings lees, dan kry jy weer die YOD, HEY, VAV en die laaste twee eindig as ‘SHIN’ en ‘AIN”. Dus, Yahushua se Naam bevat Sy Vader se naam en begin met Yahu (YOD, HEY, VAV) en die laaste twee gee vir ons foneties die klank ‘shua’ wat redding, verlossing beteken. Dus, Yah is ons verlossing. Maar jy sal dit nie in jou Afrikaanse of Engelse vertalings kry nie!
Hebreeus is ‘n fonetiese taal, ‘n taal wat met klanke gekommunikeer word. Daarom is dit moontlik om die konsonante, YOD, HEY, VAV, HEY, te kan uitspreek sonder dat daar vokale by hoef te wees. Daarom moet die Chinees of die Sweed of die Japannees ook instaat wees om dieselfde klanke foneties oor sy lippe voort te bring as wat die Yisraeliet of die Afrikaner of die Zulu dit doen. Daarom sê die Skrifte dan ook dat Sy Naam die enigste Naam is waardeur die mens gered kan word – daar is geen ander Naam nie, ongeag watter taal die gelowige praat.
En hierdie ewige verbondsnaam Yahweh – wat sê koning Dawied daarvan in Psalm 135:13? Hy sê dat hierdie verbondsnaam vir ewig sal bestaan:
“O YAHWEH, u Naam is tot in ewigheid, u gedenknaam, YAHWEH, van geslag tot geslag!”
En selfs Henog maak groot gewag van die Naam van die Elohiem van die Geeste – hy waarsku dat diegene wie nie op die NAAM van die Elohiem van die Geeste vertrou en dit gebruik of daarin glo nie, heeltemal vernietig sal word.
Hierdie gedenknaam, die verbondsnaam waarvan Joël 2:32 profeteer:
“En elkeen wat die Naam van YAHWEH aanroep, sal gered word;…”
Dit raak al meer bekend – en die Skrif verklaar dat dit die enigste Naam is waardeur mens gered kan word!!
Die Torah van Yahweh is onveranderlik, is ewig vir altyd. Yahweh is die Naam van die Skepper – dit is die eerste Gebod. Daar bestaan geen ander god met ‘n ander naam wat hierdie Hoogverhewe Afgesonderde Naam durf vervang nie. Geen ander god het ooit sy wette persoonlik self neergeskryf nie. Dis net Yahweh, die Elohiem van die heelal wat Sy eie wette persoonlik met Sy eie vinger vir die mens op klip geskryf het. Hy het nie eens vir Moses die geleentheid gegee nie. Hy het dit self geskryf, twee keer na mekaar. Die Allerhoogste het seker gemaak dat ons die waarheid sal weet.