WAT IS DIE AARD VAN DIE NUWE “TESTAMENTIESE”
MESSIAS YAHUSHUA? WIE IS HY?
Ek is nie gebore in staat om reg te laat geskied aan hierdie ongelooflike groot wonderlike onderwerp nie. Daarom gaan ek, om my eie onvermoë so effens te verbloem, net baie kortliks wys op enkele aspekte in die Skrif wat dui op Yahshua se Elohiem-status (Sy Goddelikheid, Sy Wese, Yahshua as onverdeelbare, onafskeibare en integrale deel van Sy Abba, die Elohiem van die geeste, Sy onveranderlikheid).
Johannes 1:1 verduidelik
“In die begin was die Lewende Woord/Dabar/Torah, en die Lewende Woord/Dabar/Torah was by Elohiem, en die Lewende Woord/Dabar/Torah was Elohiem”.
Ons moet leer om vanuit ‘n Hebreeuse oogpunt na die Skrif te kyk. Hoe interpreteer ‘n Hebreeus-sprekende Nasareense gelowige ons Skrif?
“In die begin – Beresheeth” Gen.1:1
Johannes kom as ‘n Hebreeuse profeet en hy verklaar vir ons met ‘n Hebreeuse insig en begrip na wat was “in die begin – Beresheeth”
Hy sê vir ons inderdaad: “B’reshit Ha-Torah”
Kom ons plaas dit oor in Afrikaans maar met ‘n Hebreeuse kleur:
“In die begin was die Torah, en die Torah was met Yahweh, en die Torah was een met Yahweh. Die Torah en Yahweh was saam een vanaf die begin”
YAHUSHUA SE ANDER NAAM IS
YAHWEH HA-TORAH
Asof dit nie wonderbaarlik genoeg is nie, bevestig die Openbaring van Johannes vir ons in hoofstuk 19:13 dat Yahushua se ander naam is die Torah, die Woord, Dabar, die Logos. Dit beteken dood gewoon vir die Hebreeuse Messiaanse gelowige dat:
YAHUWEH = YAHUSHUA = HA-TORAH
Yahweh, die Elohiem van die geeste is onsterflik. En Hy moes juis kom sterf ten einde Sy verlossingsplan vir die mensdom in werking te kon stel. Hy moes Sy eie bloed stort om ‘n hernieude Verbond met Sy volk Yisrael te sluit – verseël met Sy eie bloed. Hy moet Yisrael met Homself versoen!
YAHUWEH, ELOHIEM VAN DIE GEESTE,
ONSTERFLIK, HET VIR HOMSELF ‘N
STERFLIKE MENSLIKE LIGGAAM VOORBEREI
Yahweh, ‘n Gees, die onsterflike Elohiem van die geeste, het vir Homself ‘n sterflike liggaam voorberei.
Psalm 40:6/7 lui:
“maar ‘n liggaam het U vir My voorberei”
En verder staan dit bevestig dat daar in die boekrol van Hom, Yahshua, geskryf word – lees self verder die opvolgende verse.
Jy sal dit in geen gewone Engelse, Duitse, Franse, Chinese of Afrikaanse vertaling ooit kry nie. In jou Bybel staan iets van brandoffers en sondoffers en selfs iets van ore gegrawe – ek verstaan dit nie mooi nie. Hierdie vertaling word bekragtig in die Dooie See Rolle en die Aramese Peshitta en in Heb. 10:5 word dit ook bevestig. Ek behandel hierdie gedeelte volledig in ‘n latere hoofstuk - “maar ‘n liggaam het U vir My voorberei” gaan kyk self, dit staan wel daar in die nuwe testament.
Waar kom Yahushua vandaan? Psalm 74:11 gee vir ons ‘n antwoord.
“Waarom trek U U hand terug? Ja, U Regterhand? Trek dit uit U boesem/binneste uit” (Strong’s H2436)
Spreuke 30:4 dui daarop dat Salomo deur die Gees van Yahweh geweet het dat Vader Yahweh en Sy Seun betrokke was by die Skepping, want Salomo vra:
“……….. Wat is Sy Naam? En wat is die Naam van Sy Seun?”
Lees daardie hele vers om te sien dat dit handel oor die Skepping. Dit is derhalwe ‘n bewese feit binne die Skrifte self dat Yahshua vooraf reeds bestaan het. Yahshua is voortgebring voordat Hy fisies gebore is. Hy het van altyd reeds bestaan in die boesem/binneste van Yahweh – Joh.1:18 verwys na Yahshua wie in die boesem/binneste van die Vader was. (Ps.74:11) Yahshua, die Lewende Torah, die Lewende Woord (Dabar), die Gedagtes van Vader Yahweh – dis groot, wow!! En Openbaring 19:13 bekragtig hierdie waarheid!!!
Nog voor die aarde of die hemele geskape is, was Yahshua al reeds daar.
Spreuke 8:22-31 vertel vir ons, en ek gaan slegs grepies aanhaal – dis ongelooflik wonderbaarlik:
“Yahweh het my berei as eersteling van Sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af.”
Miga 5:2 bevestig
“…. Uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Yisrael sal wees; en sy uitgang is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid”.
Yahshua, die Seun, was derhalwe vanaf die onbepaalbare begin, reeds daar deurdat Hy deel was van Yahweh, Sy Lewende Woord, Sy Torah, Sy Gedagtes, - deel was binne in Yahweh se boesem/binneste. Yahweh het Yahshua toe voort gebring, uit Homself uit gehaal en aan die onsienlike geesteswêreld bekend gestel waarna die fisiese aarde en die fisiese hemele geskape is.
Genesis 1:1 lees so, en nie soos in jou gewone bybel vertaal nie.
“Beresheeth bara Elohim Aleph-Taf ha shamayim v-et ha-aretz”
Dit kan tereg vertaal word: “In die begin het Elohiem die Aleph en die Tav voortgebring en die hemele en die aarde geskape”
Kol. 1:15-17 bevestig dit deurdat Paulus verklaar
“Hy is die Beeld van die onsienlike Elohiem, die Eersgeborene van die hele Skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemel en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is vanweë Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge en in Hom hou alle dinge stand”.
Al gevolgtrekking, en die ENIGSTE waartoe enige objektiewe navorser kan kom is:
YAHWEH, die ELOHIEM VAN DIE GEESTE, HET VIR HOMSELF ‘N “LIGGAAM VOORBEREI” – “EN DIE TORAH HET VLEES GEWORD” – “EN DIE TORAH HET YAHUSHUA GEWORD” – “EN DIE TORAH HET VERGESTALTING GEKRY (LYF GEKRY) IN DIE MESSIAS YAHUSHUA WIE ONDER ONS KOM WOON/TABERNAKEL HET”.
(Nie op kersfees nie, maar die 15de Tishry, Fees van Tabernakels, lees later meer hieroor)
Kom ons gaan kyk na Johannes 1:17 en met behulp van die Strong’s woordeboek, doen ons ons eie vertaling – as jy verveeld raak, slaan oor na ‘n volgende afdeling – maar hierdie is so “mind boggling”, dit laat jou sprakeloos.
“Want die Torah is deur Moses gegee waarvan die waarheid en die onverdiende guns (genade) daarvan (van die Torah) in Yahushua vergestalting gekry het”
(Strong’s G1096 dui daarop dat die Engelse ‘became’ dui op verandering, ‘n oorskakeling van een ding na ‘n ander, ontwikkeling. Die geskrewe Woord, die geskrewe Torah het met Yahweh se vleeswording in Yahshua, verander in die Lewende Torah (Yahshua Self). Yahshua is die Lewende, die Ewige Torah, die Onveranderlike Elohiem Wie se Woord vir ewig vas staan en nie kan verander nie)
En volgens Romeine 10:4 wil dit voorkom asof ons in die kol is.
“Want die Messias is die werklike einddoel van die Torah, tot geregtigheid vir elkeen wat glo”
Anders gestel – die Torah het die Messias ten doel gehad. Die Torah het die koms van die Messias voorspel. Die Torah is vervolmaak in die Messias en diegene wie in die Messias Yahshua glo, dit sal hulle tot geregtigheid gereken word. Die Messias is die verwesenliking van die Torah, nie die einde nie! Die versinnebeelding van die waarheid en die guns vervat in die Torah. En Yahushua het gekom om die Torah in die praktyk te leef en vir ons ‘n voorbeeld te stel. Dit word beweer dat die Jode die Messias ‘n bynaam, ‘n alias, genoem het – “Ha Torah”.
DIE ONDERHOUDING EN DIE NAKOMING
VAN DIE TORAH VAN YAHWEH IS ‘N GENOT
Yahushua het inderdaad die Torah van Yahweh kom “vol” maak – fulfill, verwesenlik. Hy het ons kom wys dat die onderhouding van die Torah ‘n genot en ‘n plesier kan wees wanneer dit gehoorsaam nagekom word vanuit ‘n persoonlike verhouding met Hom, Yahshua. Vanuit die hart uit soos gedryf deur die Ruach (Gees) van Yahweh – dis die werking van die hernieude verbond.
Die vrug van die nuutgemaakte, weergebore “gees” (Ruach) is inderdaad die Ruach (Gees) van die Torah waarna Gal. 5:22-24 verwys. Yahshua het kom wys dat die Torah nie slegs ‘n plig was nie, maar Hy het dit ‘n hartsverhouding kom maak. Dit kom skryf op ons harte soos Hy beloof het in Jeremia, sodat die bruid die liefdevolle instruksies van die Bruidegom met vreugde kon onderhou en nakom, omdat die bruid juis weet dat dit die Bruidegom plesier verskaf.
DIE TORAH SONDER JOU AF TOT YAHUWEH,
STEL JOU APART
VAN DIE RES VAN DIE WêRELD
Johannes deel ons mee dat Yahuweh se Gebooie nie moeilik is nie. Om Sy Gebooie na te kom en te doen is dood eenvoudig ‘n seëning wat die dader oor homself bring omdat dit ons afsonder tot Yahweh. Die hele Torah handel oor rein en onrein – oor wat afgesonder is tot Yahweh en wat nie. Dit is inderdaad die Torah van Yahweh – nie die Torah van die Jode nie. Yahweh beveel hoeveel keer in die Torah “Jy mag nie …. Want Ek is Yahweh. Omdat Ek afgesonderd is, moet julle ook afgesonderd wees, want Ek is Yahweh”. (My parafrasering). Afgesonderd = anders as die ongelowiges = soos Yahushua.
Die ganse Yisrael was veronderstel om ‘n volk van priesters vir Yahweh te wees en Hy verwag derhalwe van ons, Sy gelowige volgelinge, afgesonderde toewyding. Geen vriendskap met die wêreld nie. Afgesonder tot Yahweh se diens. Die nakoming en doen van die Torah lei tot afgesonderdheid tot Yahweh – en dit is ‘n seën.
Yahushua is die fisiese van die Elohiem (god) van die geeste, ‘n manifestasie van Yahweh, is ‘n afskynsel/afbeelding van die Elohiem van die geeste. Die heelal is te klein om Yahweh, die Elohiem van die Geeste te bevat, en tog het Yahweh so ‘n fisiese deel van Homself vergestalt, lyf gegee in ons Messias Yahushua. Dit terwille van ons. Die psalmis skryf Yahweh is so grooottt Hy hou die ganse kosmiese heelal in die palm van Sy hand!!
Craig Winn stel dit so pragtig in YadaYahweh (Om Yahweh te ken): “Yahushua is a diminished representation of Yahweh.”
YAHWEH IS GEES, LIG, SUIWER ENERGIE
Yahweh is LIG, suiwer energie en om te voorkom dat Hy die mensdom totaal vernietig met Sy Almag en Sy Alles-verterende teenwoordigheid en Skoonheid, moes Hy Sy energievlak verminder tot sodanig dat die mensdom Hom kon ervaar en in Hom glo.
Die wat nog hul fisika onthou sal weet dat materie slegs gestruktureerde energie is, of LIG in ‘n verminderde graad. Dit is waarom ‘n stuk materie vermenigvuldig moet word met die vierkantswortel van die spoed van lig om die uitkoms van energie daaruit te bereken.
Die Messias in die hernieude testament is ‘n afbeelding, ‘n manifestasie van die Elohiem van die geeste, die Elohiem van die ou testament. Daarom is Yahweh en Yahushua Een, echad, maar in wese twee, Vader en Seun. Maar soos Yahushua ook self verklaar “die Vader is groter as ek”.
Die Messias is slegs ‘n manifestasie/afbeelding van die grotere (G3187 meizon) onsienlike Vader Yahweh en noodwendigerwys is Yahushua dan die ‘mindere’. Yahushua sê self in Joh.10:29 Sy Vader is groter as almal. En die ‘grooottt’ Elohiem Skepper Yahweh het dit reg gekry om so ‘n “ietsie” van Homself in die liggaam van Yahushua die Messias te plaas.
En die Ruach HaKodesh (Gees) is op Sy beurt inderdaad Yahweh Yahshua. In 2 Korinthiërs 3:17(a) stel Paulus dit baie duidelik “Yahweh is die Gees” – nie ‘n afsonderlike derde geestesentiteit nie – Yahweh self is gees en Sy Woord/Dabar/Torah word tans omvat in ‘n lewende/verrese/opgestane verheerlikte liggaam genaamd Yahushua, die Lewende Torah, die Woord van Yahweh. Die Ruach (Gees) is Yahweh.
Yahweh Yahshua is Een. Dit is Sy (hulle) naam. Hy Yahweh Yahshua verander nie.
Craig Winn, Amerikaanse skrywer van onder andere YadaYahweh (Om Yahweh te ken) en ‘Prophet of Doom’, gebruik hierdie analogie, ‘n uitstekende vergelyking wat vassteek en baie moeilike kwessies vereenvoudig.
DIE VERHOUDING TUSSEN YAHWEH,
YAHSHUA EN DIE RUACH (GEES)
Stel jou self voor in ‘n boot in die middel van die see. Neem twee groot emmers en vul dit met seewater. Vries die inhoud van een emmer water en kerf daaruit die vorm van ‘n mens. Plaas die beeld dan in die lig sodat mens die struktuur en die vorm daarvan kan sien en dit voel/betas gedurende die kort fisiese tydperk wat dit bestaan. Die inhoud van die ander emmer seewater kook jy totdat die stoom daaruit trek en oral om jou op styg. Die stoom besit baie meer energie as die bevrore beeld uit die seewater uit. Die stoom beweeg boontoe, dit kan ook gebruik word om werk te doen, soos ook die Ruach, Gees van Yahweh.
Die een reflekteer lig en is maklik om te sien. Die ander beskik oor meer energie en kan baie groter dinge doen. Tog is stoom en ys presies dieselfde ding. Albei is suiwer manifestasies van die oseaan, die see-water, maar afgesonder in hul manifestasies na dit gevries en gekook is. Die emmers see-water kom presies van dieselfde bron af en is identies in hul samestelling. Dit is steeds die oseaan waaruit hulle geneem is, ‘n gedeelte wat nou bestaan as ‘n afsonderlike deel van ys en stoom. Die ysbeeld is tasbaar, terwyl die stoom die werk van die Ruach van Yahweh versinnebeeld, Sy krag en bemagtiging om gelowiges toe te rus. Hierdie analogie, sê Craig, is nie volmaak nie, maar dit help ons tot ‘n mate om te verstaan dat Yahweh een is in aard, een in persoonlikheid, een in krag, en een in doel. Hy is een entiteit in bewussyn.
Wat sê die Sh’ma (Shema) gedeelte van die Torah vir ons? Deut.6:4-9:
“Hoor Yisrael, Yahweh is ons Elohiem; Yahweh is een. Daarom moet jy Yahweh jou Elohiem liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor praat as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skryf”.
In Jesaja 42:8 bevestig Hy:
“Ek is Yahweh, dit is My Naam ; en My eer sal Ek aan geen ander gee nie, ….”
In Jesaja 44:6 bekragtig Hy:
“So sê Yahweh, die Koning van Yisrael en sy Losser, Yahweh van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen Elohiem nie”.
YAHWEH VERMORSEL DIE GEDAGTE VAN ‘N DRIE-EENHEID
En om die gruwelike drie-eenheidslering die nek in te slaan bevestig Yahweh vir ons in Zachariah 12:10 – Yahweh is die Spreker:
“…en hulle sal opsien na My (Yahweh) vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom (Yahshua) rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind”.
Die leerstelling van die drie-eenheid is ‘n duiwelse fabrikasie wat weer hernieude ondersteuning gekry het in die dae van Pous/Keiser Konstantyn. Die leerstelling kom egter van baie vroeër af. Dis ‘n leerstelling van “Drie-in-een-skisofrenie”. Veelvuldige persoonlikhede binne in een, die Almagtige Een, Yahweh. Asseblief!!
DRIE EENHEID – ONHEILIGE SATANIESE KONSTRUKSIE
Hierdie drie-eenheidsteorie kom alreeds vanaf sedert die Babiloniese tydperk. Die heidense afgodsdienste is gefundeer op seks en daarom was die pa-ma-kind driehoeksmodel by almal bekend.
In Babilon was die “onheilige” drie-eenheid bekend as Baal, Semiramis en Tammuz; In Indië was dit Brahma, Shiva en Vishnu (Krishna); In Egipte was dit Amon Ra, Isis en Osiris; In die Roomse Kerk is dit die vader, moeder Maria en die seun (Iesous). Moeder Maria word vandag verhef tot die Godin van die Hemele en sy word ook as sodanig aanbid – sy verrig wonderwerke – gaan lees maar van haar in Jeremiah 7:18 en ook 44:18 – dit is niks nuuts nie.
In die New Age beweging vind jy vir Ohrmazd, Maitreya (new age Christ) en Zurvan.
Ek kan aanhou tot in die oneindigheid met die onheilige drie-eenheids-gedagte in die afgodediens van duisende jare gelede en ook nou.
DAAR BESTAAN ABSOLUUT NIKS IN DIE SKRIF
WAT ‘N DRIE-EENHEIDS-LERING ONDERSTEUN NIE
Daar is niks in die Skrif, in die Torah, in die Ou testament wat die gedagte van ‘n drie-in-een elohiem ondersteun nie. Die leer van die drie-eenheid is ‘n Babiloniese, heidense mite. In die Nuwe Testament is daar invoegsels wat deur die Rooms Katolieke ingeskryf is, maar wat hoegenaamd geen bevestiging in die Torah het nie. Die evangelie van Matteus wat in Hebreeus/Aramees geskryf is, verklaar byvoorbeeld in hoofstuk 28:19
“Gaan dan heen en maak dissipels van alle nasies, en doop hulle in MY Naam”.
In Wie se Naam? YAHUSHUA se NAAM!
Dit is Yahshua wat Sy dissipels opdrag gee. Hierdie Hebreeuse vertaling is totaal anders as die een in jou Skrif wat ‘n drie-eenheid impliseer en wat vanuit Grieks, toe na Latyn en toe na Engels en toe na Afrikaans vertaal is.
In Zachariah 12:10 praat Yahweh in die eerste (1ste) persoon “Hulle sal opsien na My wie hulle deurboor het” – dit is Yahweh wat praat. Wil jy nou werklik die argumente van mense aanvaar teenoor Yahweh se eie persoonlike woorde aan ons?
Die enigste ander teksvers wat gebruik word vir die regverdiging van ‘n drie-eenheidsleerstelling is kwansuis 1 Johannes 5:8 wat deur die Rooms Katolieke ingevoeg is en later onder bedrieglike omstandighede in die Textus Receptus ingevoeg is gedurende die 17de eeu. Hierdie vertaling het talle latere vertalings beïnvloed. Dit is niks anders as ‘n aap se konkoksie van die begin tot die einde – in Engels ‘a fool’s folly from start to finish’.
Yahshua is die vleeslike manifestasie van die Elohiem van die Geeste, Yahweh – en ‘n liggaam het U vir my berei – Psalm 40:7!!
Ek het onlangs afgekom op ‘n artikel deur oud NG Kerk ds. John Wahl waarvan ek die eerste paragraaf net so verbatim gaan aanhaal. Dis ongelooflik reg en waar, ‘n ander sy van ha Moshiach. John Wahl is uit die NG Kerk uitgeskop toe hy durf waag het om hom te bekeer en te laat onderdompel deur die bekeringsdoop waarvan Petrus in Handelinge praat.
“Soms word Yahshua in die NMS (Na-Messiaanse Skrifte) op ‘n manier beskryf wat bedoel is om aan te dui dat Hy, as die Seun van Yahweh, meer as enige iemand sedert die Eerste Adam, die eienskappe en die waardes en die verhewe doelwitte van Yahweh uitgeleef en uitgebeeld het.
In hierdie opsig het Yahshua iets kom herstel van dit wat Yahweh van die begin af bedoel het en die potensiaal wat die Skepper oorspronklik in die mens ingebou het, kom verwesenlik. Yahweh het immers die mens na sy beeld en na sy gelykenis geskape (Bereshiet / Genesis 1:26). Die mens het egter toegelaat dat sonde hierdie verhewe "gestalte" in die mens (nl. beeld en gelykenis van Yahweh) belemmer en beskadig. Yahshua se koms is in hierdie opsig van deurslaggewende betekenis: dit het ‘n groot ommeswaai in hierdie proses van die "verlies" van die beeld of die gestalte van Yahweh teweeggebring. Yahshua het weer die beeld / gestalte van Yahweh kom weerspieël soos wat Adam dit aan die begin weerspieël het. En ná Yahshua kan gelowiges hulle nou met die nuwe mens beklee wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper (Kolossense 3:10). Ná Yahshua word dit vir mense soos ons moontlik om ons met die nuwe mens te beklee wat na Elohiem geskape is in ware geregtigheid en afgesonderdheid (Efesiërs 4:21). Ná Yahshua ontdek meer en meer mense dat hulle eintlik in die Messias geskape is tot goeie werke wat Yahweh voorberei het, sodat hulle daarin kan wandel (Efesiërs 2:10).”
Dit geskied na aanleiding van die onderdompelingsdoop, later meer hieroor – ‘n ware metaforiese geestelike betekenis, teenoor die besprenkeling van babas wat ‘n Babiloniese waterritueel voorstel wat demoniese bindinge tot gevolg kan hê.
Yahweh in die gestalte van Yahshua. Dis belangrik om te onthou dat Yahweh en Yahshua nie “identies” of “dieselfde” is in die gewone betekenis van die woord nie. Maar hierdie onderwerp is so groot dat ek of jy dit nie binne ‘n paar bladsye kan uitpluis en verstaan nie.
Kom ons keer weereens terug. Sy gebooie, Sy Torah verander nie. “Ek sal My verbond nie ontwy nie, en wat oor My lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie” Psalm 89:35
Sy Gebooie staan vir ewig vas. Dit kan nie verander nie. Yahushua bekragtig hierdie belofte persoonlik in Matteus 5:17-18
“Moenie dink dat Ek gekom het om die Torah of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want amein Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een letterdeel van die Torah ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus….”
Want onthou – ons het tot die slotsom gekom dat:
YAHUWEH = YAHUSHUA = DIE TORAH = ONVERANDERLIK EWIG
Vraag is nou – het die hemel en die aarde al verby gegaan? Nee? Wel dan staan die Torah nog steeds soos wat dit in Moses se tyd en voor hom gestaan het en is dit steeds onveranderlik soos Yahweh Yahshua self.
Dan wil ek, moet ek afsluit met ‘n aspek wat verband hou met die opskrif van hierdie hoofstuk 7.
Die ortodokse Jode beweer dat hulle gered kan word deur bloot die Torah te onderhou, sonder om Yahushua as Messias te aanvaar. Jy dink seker hier kom nou ‘n lang argument.
Nee, wat sê Yahushua, die Lewende Torah, self vir ons in Joh. 14:6-7:
“Yahushua antwoord hom: Ek is die Weg en die Waarheid en die
Lewe; NIEMAND kom na die Vader BEHALWE deur MY nie. As julle My
geken het, sou julle My Vader ook geken het ….”
Jy sien, as jy Yahshua verwerp, verwerp jy inderdaad die Vader Yahweh. En presies dieselfde, as jy die Torah verwerp, verwerp jy Yahshua en ook die Vader Yahweh. So, Judaïsme en die Christendom is in presies dieselfde sinkende skip.
EN WAT MEER!!! In Joh.15:23 sê Yahushua vir die klomp Fariseërs:
“Wie My haat, haat ook My Vader”
Wat meer kan ek vir hierdie ortodokse Jode sê of vir “gelowiges” wat glo die “GOD” van alle gelowe is dieselfde. As jy Yahshua verwerp verwerp jy die Vader!!
AS JY YAHSHUA VERWERP,
VERWERP JY OOK YAHWEH
Wonderlik, as die Skrif praat, nodig jy geen lang menslike argumente nie. Maar die tragedie is, niemand luister nie. Wat die Skrif ookal vir Christene sê, niemand luister nie, nie die Jode nie, niemand nie.
Nou die dag het ek die fantastiese voorreg gehad om teenoor ‘n regte egte Jood te getuig en ek het gedink hy luister en neem in, internaliseer, maak die inligting deel van homself. Hy het as Jood groot geword en ken die Torah beter as ek. Maar op navraag later het dit geblyk dat hy nie geluister het nie. Hartseer. Maar, Yahweh beloof dat Sy Woord nie ledig sal terug keer nie. Dit is weer bemoedigend. Moet nie tou opgooi nie!