Share This Page With Friends

Bookmark and Share

 

Jerusalem Time

 
 
 
 
 

Subscribe and Donate


 

 

Select Language

 

 

To return to English, press ‘Show Original’ button in upper right hand corner.  
 

VERTALINGS-ONREëLMATIGHEDE

The following manual (human) translations are also available.

English

 

HOOFSTUK 11.
 
VERTALINGS-ONREëLMATIGHEDE EN BEDROG WAT ONLANGS ONDER DIE VERGROOTGLAS GEKOM HET
 
Hierdie hoofstuk wyk bietjie af van die temas in die vorige hoofstukke, net om so bietjie blaaskans te gee. Ek wil net enkele voorbeelde aantoon vir in geval jy belangstel, en ook om te verhoed dat jy dink my aantygings word sommer net uit die lug uit gegryp. Jy is welkom om na ‘n volgende afdeling oor te slaan. Maar probeer tog maar klaar lees, jy kan dalk baie verloor deur verveeld te raak. Daar is feite opgesluit in hierdie hoofstuk waarvan ek nooit ooit bewus was nie.
 
Daar is baie vertalingsbedrog en mistastings gepleeg. Ek haal aan, maar vertaal terselfdertyd so korrek moontlik, uit die RESTORATION SCRIPTURES, TRUE NAME EDITION STUDY BIBLE, ‘n Skrif direk vertaal uit die oorspronklike Hebreeuse Masoretiese Tanach (Ou Testament), die Aramese Peshitta, die Dooie Seerolle, die Septuagint (Griekse vertaling van die Hebreeuse Tanach) en ook ander oer-bronne. Dit is nie ‘n vertaling vanaf ‘n vertaling nie – dis ‘n vertaling direk vanuit die oorspronklike dokumente.
 
Waar die Hebreeuse Masoretiese teks korrupteer of verander is, is regstellings aangebring in hierdie betrokke Skrif en getoets met die Aramese Peshitta of die Dooie Seerolle of die Septuagint.
 
Ek haal ‘n voorbeeld aan van doelbewuste bedrog deur die Rabbis in die Masoretiese Hebreeuse teks, waarop die vertalings van die Bybels in die Christendom geskoei is.
 
In Deuteronomium 32:43 is daar ‘n wesenlike teksvers uit die Torah uit verwyder, maar wat tog volledig aangehaal word in die Septuagint. (Dit is die Griekse vertaling van die Hebreeuse ou testament. Die Septuagint is baie lank voor die Messias se tyd deur 70 Joodse Rabbis in Grieks vertaal uit die Hebreeus en is baie handig om te bepaal of sekere gedeeltes in ons huidige vertalings van die Ou Testament, geldig is of nie.)
 
Maar snaaks genoeg, hierdie Deut. 32:43 word ook in die nuwe testament aangehaal en ook in die Dooie Seerolle en ook in die Aramese Peshitta. Waarom is dit dan uitgelaat in ons eie ou Bybels?
Sien Hebreërs 1:6:
“En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die boodskappers van Elohiem moet Hom aanbid”.
 
Hierdie vermiste teksvers in Deuteronomium 32:43 word ook gevind in die Aramese Peshitta in Psalm 97:7:
“Beskaamd staan almal wat die beelde dien, wat hulle op afgode beroem; al die magtiges buig hulle voor Hom (Yahshua) neer.”
 
Ek haal nou hierdie vermiste teksvers aan uit die Restoration Scriptures en vertaal dit so korrek moontlik – dit verskil radikaal van die een in jou Bybel – Deut. 32:43:
“Juig, O Hemele, met Hom, en laat al die hemelse boodskappers Hom aanbid: (hierdie gedeelte word aangehaal in die Septuagint en ook in Hebreërs 1:6) O, juig alle nasies tesame met Sy volk, en laat die seuns van Elohim hulself versterk in Hom: (hierdie gedeelte word aangehaal in die Septuagint, en ook in Romeine 15:10) want Hy sal die bloed van Sy seuns wreek, en sal regverdige uitsprake gee oor Sy teëstanders, en sal diegene vergeld wat Hom haat, en YAHWEH sal ‘n versoening bewerk vir die land en vir Sy volk”.
 
Jy kan maar soek tot jy blou raak, jy sal nie hierdie teksvers in jou Afrikaanse Bybel kry nie – ook nie in Engelse vertalings nie. Hierdie teksvers maak gewag van die feit dat die Messias Yahshua, Sy verskyning gaan maak en dat almal, al die boodskappers van die Skepper, Hom moet aanbid. Verder word alle nasies van die aarde aangemoedig om te identifiseer met Yisrael en om met hierdie volk ‘n verbintenis te hê.
Dit wil voorkom dat hierdie Joodse Rabbis hierdie gedeelte doelbewus uit die Tanach uit gelaat het sodat die profetiese aankondiging van die Messias Yahshua nie raak gelees moes word nie.
 
Kom ek wys op nog ‘n verkragting deur die vertalers. In dieselfde Restorations Scriptures staan die volgende.
Psa. 40:6 Offerandes en spysoffers het u nie begeer nie; MAAR ‘N LIGGAAM HET U VIR MY VOORBEREI; brandoffers en sondoffers het U nie van my vereis nie.
Psa. 40:7 Toe het ek gesê: Kyk uit, Ek sal kom: in die volume/inhoud van die boekrol word daar van My geskryf,
Psa. 40:8 Ek verlustig Myself daarin om U wil te doen, O My Elohim: Ja U Torah is binne in My hart.
 
Hier volg die gewone 1933 Afrikaanse vertaling van dieselfde porsie:
Psa 40:6 (40:7) U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie.
Psa 40:7 (40:8) Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe.
Psa 40:8 (40:9) Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.
Begryp jy wat ek bedoel? Psalm 40:6-8 se 1933 vertaling in Afrikaans is ‘n verkragting van die oorspronklike – en dit terwyl die 1933 vertaling gesien word as die beste van al die Afrikaanse vertalings. Vergelyk die vertaling van die res van die verse, bo en behalwe die grysgekleurde dele.
 
Die Joodse Rabbis het hierdie bedrog begin en ons eie vertalers het maar net aangehou daarmee, hetsy wetende of onwetende – maar hoekom vind regstellings nie plaas binne die geledere van ons eie skrifgeleerdes binne die Christendom nie?
Kyk bo na vers 6 en spesifiek na die grys gekleurde sinsnede. ‘n Wesenlike integrale heilsfeit word weg gelaat – naamlik dat YAHWEH, GEES, die Elohiem van die geeste, ‘n fisiese liggaam vir Homself voorberei het. Die gedeelte word weer aangehaal of ge-eggo in Hebreërs 10:5-7: weereens ‘n stawing van ‘n bewese feit dat alle aanhalings in die nuwe testament hul oorsprong in die Ou testament het.
Heb 10:5 kwoteer: 
“Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, MAAR U HET VIR MY ‘N LIGGAAM BEREI.
Heb 10:6 Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Heb 10:7 Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o Elohiem.
Die aanhaling “MAAR ‘N LIGGAAM HET U VIR MY VOORBEREI” word ook direk uit die Septuagint, die Aramese Peshitta en die Dooie Seerolle uit vertaal en ook in die hernieude verbond (Hebreërs 10) aangehaal.
 
Die Masoretiese teks in die Stone-uitgawe het doelbewustelik en bedrieglikerwys die wesenlike frase “maar ‘n liggaam het U vir My voorberei” verdraai en uitgelaat.
Ons vertalers het dit gevolg met “ore het u vir my gegrawe” Wat ‘n pot snonsens!!
Hierdie Psalm verse praat van YAHWEH wat ‘n spesiale fisiese liggaam vir Homself voorberei het, wat na die aarde toe sou kom en van wie die Torah-boekrolle van Moses, getuig.
 
Net so is Psalm 151 uit die ou testament weggelaat, waarin Koning Dawid se toekomstige koninkryk uitgespel word en hy die Skepper Elohiem van die heelal besing as YAHWEH, wie hom gesalf het as koning oor Yisrael. Hierdie psalm kom voor in die Septuagint en die Dooie Seerolle, maar nie in een van ons hedendaagse bybels nie!!
 
En ten slotte wil ek net verwys na die pragtige Handelinge hoofstuk 29. Ongelooflik waar Paulus oral was, Engeland, onder andere, selfs Spanje. Hy het gepreek op die plek waar die St. Pauls katedraal vandag gebou is, volgens oorlewering. Hand.29:9 vertel ons die volgende en ek gaan net so aanhaal uit die Restoration Scriptures sonder om ‘n vertaling te waag.
“And on the next day he came and stood upon Mount Lud and the people thronged at the gate, and assembled in the Broadway, and he preached Moshiach to them, and they believed the Word and the testimony of Yahushua”.
Die verklaring vir Mount Lud in die Restoration Scriptures lui “Ludgate Hill and Broadway, where St. Paul’s Cathedral stand in London, England”.
 
Ek self het persoonlik op geskrifte afgekom wat die begin geskiedenis van die ‘christendom’ in Engeland beskrywe. Dit lees soos ‘n sprokie – van die ander dissipels het ook na die hemelvaart in Engeland aangedoen, daar is gemeentes gevestig en die Messiaanse Nasareense gelowiges het ook daar wortel geskiet en vermeerder.
 
Dit is nie waar dat die Roomse Kerk die eerste ‘bekeerlinge’ in Engeland gevestig het nie – dis onwaar – weliswaar het hulle later eers toegetree en kammastag Roomse sendelinge gestuur, lank nadat die Apostels reeds fondamente gelê het. Maar daarvan word nie melding gemaak in die gewone historiese bronne nie.
 
En dan in vers 12 bevestig hierdie Handelinge hoofstuk wat glad nie in jou Bybel verskyn nie die volgende:
“In those days there shall be wars and rumors of war; and a Melech (King) sal rise up, and His Sword (Torah) sal be a healing for the nations, and His shalom (peace) making shall abide, and the kavod (glory/honor/esteem) of His Kingdom a wonder among princes”
Hierdie Skrifgedeelte pas heeltemal in en bevestig baie ander Ou profetiese Skrifgedeeltes. Waarom is dit nie in ons Bybels nie?
 
Het jy al gewonder waarom ons voorouers sekere Bybelse boeke wat deel gevorm het van die kanonieke geskrifte sommer net so weg gelaat het? Die boek van Yasher, die boek van Henog, ens, ens. Ons voorouers, die Rooms Katolieke kerkvaders moet die blaam hiervoor ontvang. My hart gaan uit na die mense wat vasgevang was deur die gees van misleiding – ‘n werklike bose-gees. In die Bishops Bybel van 1568, die Geneva Bybel van 1587 en die KJV van 1611 is daar nog talle boeke soos Esdras, Tobit, Judith, Makkabees, Gebed van Manasse, Baruch, ens., ens., wat vandag nie meer deel vorm van ons huidige kanonieke geskrifte nie. Nou hoe is en wie het hierdie besluite geneem? Ons voorouers, ons Roomse kerkvaders!! 
 
Jy sal jouself ‘n vreeslike groot guns bewys deur hierdie “buite Bybelse boeke” te lees en selfs te bestudeer. En die ironie is dat hierdie boeke almal deel uit gemaak het van die ou Testamentiese kanonieke boeke in die KJV-bybel van 1611 en ook van die Bishops Bybel van 1568. My inligting is dat die Boek van Henog in 300 NC uitgehaal en vervang is met die Boek van Openbaring.
Maar wees verseker, die Skrif soos ons dit vandag besit, met die mistastings en vertalingsbedrog wat oopgevlek word en waarvan ons voortydige kennis kan neem, vanaf die Torah, die 1ste vyf boeke, die Psalms, die Profete en die evangelies en die res van die boeke soos ons dit in die hernieude Verbond het, is meer as genoeg om die pad na Yahushua, die Elohiem van die Geeste, Abba Yahweh wat vlees geword het, aan te dui.
 
YAHUSHUA IS DIE ENIGSTE WEG,
 DIE WAARHEID EN DIE LEWE
HY IS YAHUWEH SE GETUIE
EN ONS MOET YAHUSHUA SE GETUIES WEES
 
Hy is die enigste Weg, die Waarheid en die Lewe. Hy is die getuienis van Abba Yahweh en ons kan weer Sy getuies wees.
 
Maar kom ons keer terug – Die Joodse Rabbis het hierdie wesenlike feite in verskeie ander plekke in die ou Masoretiese tekste verdraai en weggesteek en met ander dubbelsinnige vertalings vervang sodat die meeste mense en Jode vandag nog steeds nie weet of glo dat die Messias inderdaad al klaar gekom het nie. Hulle wag nog steeds vir die Messias omrede hul vertalings korrup, leuenagtig en misleidend was. En dit gaan steeds voort.
Die Messias self sê vir Sy luisteraars dat die Wet/Torah van Moses en die Profete van Hom getuig. En hoe meer jy die Ou Testament leer, bestudeer en leer ken, des te meer besef jy dat die Ou Testament voorwaar in fyn besonderhede oor die Messias skryf en ook voorspel dat Hy sou kom en wanneer Hy sou kom. 
Die Rabbis het nie net die Lewende Torah, wie inderdaad die Messias Yahshua self is, verwerp nie, maar ook sekere geskrewe gedeeltes waaruit die ware en onmiskenbare identiteit van die Messias duidelik sou blyk, bedrieglik weg gesteek.
Geen wonder dat die Messias Yahshua die Fariseërs beskuldig het in Johannes 5:46-47:
Want as julle Moses geglo het, sou julle My ook geglo het, aangesien Hy van My geskryf het. Maar julle glo nie sy geskrifte nie, hoe sal julle dan in My woorde glo?
En Yahshua gaan verder en sê in Lukas 16:31:
As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie eens luister na iemand wat uit die dode uit terug keer nie”.
 
DIT IS TRAGIES! SOOS DIT TOE WAS,
SO OOK VANDAG IN DIE CHRISTENDOM
 NIEMAND LUISTER MEER NA MOSES SE TORAH NIE!!
 
Die Torah van Yahweh is Sy letterlike Woorde wat Hy vir Moses gegee het om neer te skryf. Ons het reeds gesien dat die Torah (Yahushua) vlees geword het en tussen die mense kom ‘tabernakel’/woon het.
Psalm 1 sê:
“Geseënd is die man …… sy behae is in die Torah van Yahweh, en hy oordink sy Torah dag en nag”
Psalm 19:7 sê vir ons dat die Torah die siel bekeer, laat omdraai na Yahweh toe:
“Die Torah van Yahweh is volmaak, dit laat die siel terug draai na Yahweh, die getuienis van Yahweh is vir ewig onwrikbaar standvastig, dit maak die eenvoudige wys”.
 
Hoe kan daar nog mense wees in die Christendom wat die Torah as oorbodig en onnodig ag? Het hulle nog nooit die Psalms gelees nie?
Weet jy wat sê Moses toe hy afskeid neem van die Yisraeliete in Deut.32:46-47:
“… plaas julle harte op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel om al die woorde van hierdie Torah sorgvuldig te hou. Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, MAAR DIT IS JULLE LEWE; …”
 
YAHWEH SE TORAH IS GEESTELIK EN BETEKEN LEWE
 
Moet ek weer herhaal dat Yahweh se Woorde, Sy Torah Woorde, Geestelik is en dat dit Lewe beteken?
 
TOG HET TORAH-ONDERHOUENDE GELOWIGES
 DIE KOMS VAN DIE MESSIAS MET VREUGDE AFGEWAG
 
Maar daar was wel mense wat Yahshua tog verwag het en toe Hy eindelik Sy verskyning maak, het twee ou mense Hom verwelkom. Toe Yahshua na die Tempel toe gebring is om besny te word in Lukas 2, het Simeon en Anna Hom ingewag en met vreugde oor Hom geprofeteer.
Ook al die ander mense wie die Torah bestudeer het, soos Johannes die Doper, het die Messias verwag en Hom herken en erken toe Hy Sy verskyning gemaak het. Die skrifgeleerdes het egter nie – of hulle wou Hom nie erken nie.
 
Die werklike identiteit van die Messias is nie geheim gehou nie. Die ganse Torah en die Psalms en die Profete getuig oor die identiteit van die Verlosser/Saligmaker wat sou kom. En, ekskuus dat ek daarop hamer, Die boek van Henog loop oor van die Uitverkore Een, die Seun van Adam, die Seun van die Mens, die Gesalfde wie as Regter sal kom om te oordeel. Dit was so maklik om vir ‘n hongerige soekende siel, soos die Hofman van Ethiopië te vertel “Dit is Yahshua, dit is Hy van wie die boek Henog vertel, die Gesalfde, die Seun van die Mens, die Seun van Adam. Hy het uiteindelik gekom!” En wat gebeur, hy glo voorwaar en hy vra om gedoop (onderdompel) te word.
 
In Jesaja 12:2 lees ons dat YAHWEH – die Skepper Elohiem, die Elohiem van die Israel volk, die Elohiem van Abraham, Isak en Jakob – inderdaad YAHUSHUA is. Ek haal weereens uit die Restoration Scriptures aan en vertaal so korrek moontlik na Afrikaans:
Kyk, El (God) is my Yahshua (verlossing): Ek sal vertrou en nie bang wees nie: want YAH, YAHWEH is my sterkte en my lied; Hy het ook my Yahushua (verlossing) geword” – die Hebreeus lees letterlik “YAHWEH my sterkte en my lied, het my YAHUSHUA geword
(YAH is gewoonweg ‘n afkorting van YAHWEH – in hierdie vers word die Skepper se Naam twee keer na mekaar genoem – YAH YAHWEH – vergelyk dit met die valse vertaling in Afrikaans van “HERE HERE” – ‘n verkragting van die 2de en 3de Gebod – “here” is ‘n afgodstitel of afgodsnaam vir die koningin van die hemel)
Die profeet sê dan in duidelike taal dat YAHWEH Yahshua geword het. Dit word ook bevestig uit die Dooie Seerolle.
 
YAHUWEH is YAHUSHUA. Yahu Yahweh bestaan as (hayah) Yahuwshua (Yashuw’ah – Redder en Verlosser van Yah en shua, wat beteken Yah is redding/verlossing).”
 
En wonderbaarlik bevestig buite godsdienstige sekulêre bronne die bestaan van hierdie besondere hoog heilige aparte persoonlike naam van YAHWEH baie duisende jare gelede. Argeologiese opgrawings het verskeie kliptafels opgelewer waarin die tetragrammaton, YHWH, (יהוה) YOD, HEY, VAV, HEY, vier konsonante, wat die Naam van die Skepper-Elohiem uitbeeld in ou paleo Hebreeus verskyn (HWHY) – heelwat anders as die meer moderne Hebreeuse alfabetiese letters hierbo. Onlangs het National Geographic ‘n volledige TV program aangebied waarin hierdie afgesonderde Naam van die Elohiem van Israel as YHWH in ou paleo Hebreeus op die kliptafels uitgekap was in die tyd van Konings Dawid en Salomo. Stawende bewyse buite die Skrif.
 
Maar kom ons kyk weer na wat Openbaring 1:8 aan ons openbaar. ‘n Wonderlike verbysterende waarheid word weereens bevestig – YAHUSHUA is YAHWEH!!! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, Hy wat was, wat is en wat kom. In die heel eerste oorspronklike Griekse manuskrip van Openbaring is ‘n “plekhouer” gebruik om die Griekse “kurios” te identifiseer, instede daarvan om die woord “kurios” uit te skryf, ‘n naam wat nie akkuraat uit die Hebreeus na die Grieks vertaal kon word nie.
Die Griekse leser moes dan terug gaan na die Hebreeuse Geskrifte om die spesifieke “plekhouer” te identifiseer. Die spesifieke plekhouer in die Hebreeuse Geskrifte identifiseer YAHWEH as die Naam wat die skrywer van Openbaring wou uitskryf op sy perkamentrol.
 
YAHUSHUA sê dus inderdaad vir ons en HY BESKRYF HOMSELF as YAHWEH – “Ek is die Een wat bestaan, Ek is”, die Alfa en die Omega, die Alef en die Tav.
(Daar bestaan ‘n baie geldige sterker-wordende vermoede dat hierdie eerste Griekse manuskrip van Openbaring inderdaad uit die Aramees oor vertaal is na die Grieks – daar is net te veel Hebreeuse idiome en begrippe wat binne die Grieks opgeneem is en wat onbekend is in die Grieks en ook glad nie ‘n  Griekse oorsprong het nie – taalkundiges ruik ‘n rot)
 
Soos wat YAHWEH en YAHUSHUA een (echad) is, so is ook die Ou Verbond en die Nuwe (hernieude) Verbond een.
Die Nuwe verbond kan nie bestaan sonder die Ou verbond nie en kan ook nie onafhanklik van mekaar verstaan en interpreteer word nie. Hulle is in mekaar verweef.
Dwaalleringe ontstaan wanneer jy slegs die nuwe testament as basis gebruik. Ons moet onthou dat Yahshua egter self na Sy Vader verwys as die “groter” een terwyl Hyself as die Seun van die Vader, die gestuurde boodskapper, die “mindere” is. YAHWEH en YAHSHUA is (echad), een van hart, een van sin, een van doel, maar eintlik twee – Yahushua is die fisiese manifestasie van YAHWEH wie Gees is.
Ons het beslis nie te make met ‘n onheilige drie-eenheid, ‘n her-skepping van die heidense afgodsdienende Rooms Katolieke Kerk onder Konstantyn nie, waarvan die onheilige drie-eenheid sy oorsprong baie eeue vroeër by Nimrod gehad het.
 
Drie persone in een? Veelvuldige persoonlikhede? Skisofrenie? Groen dakkies?
 
NEE!, HOOR YISRAEL “YAHWEH IS EEN”
 
As ekself getwyfel het dat die Elohiem van die Ou Verbond en die Messias van die Nuwe Verbond een en dieselfde is, is alle twyfel daarmee heen.
En ek weet nou dat Sy Naam YAHUSHUA/YAHSHUA is en nie “jesus” isnie.
Ek het altyd weg geskram van die Ou Testamentiese ‘god’, ek was bang vir Hom, ek het altyd gedink ek sal by Hom probeer verby kom deur die ander ‘lid’ van die “drie-eenheid” J-sus Chr-stos. Hoe absurd was my denke nie – en nie net ek nie. Nou die dag het ‘n bejaarde 80-jarige NG kerk tannie vir my dieselfde ding gesê: Sy is bang vir die ou Testamentiese ‘god’ maar sy glo in Jesus en hy sal haar hulp wees. As ek toe geweet het wat ek vandag weet, sou ek haar gevra het “watter ‘jesus’ – die Griekse afgod of die demoon met dieselfde naam of Yahushua?”.  Dis hartseer, dis ‘n tragedie. Maar gelukkig, Yahweh ken haar hart, weet sy weet glad niks nie, is totaal onkundig, blind, omdat haar predikante haar mislei het haar lewe lank.
 
Jy kan verder meer hieroor lees later in die stuk as jy dit nog nie op hierdie stadium eenkant toe gegooi het nie. Of jy kan hierdie skrywe nou neersit en dan maar in jou onkunde ‘n slagoffer bly van hierdie bedrog en misleiding, maar jou gewete sal jou altyd aankla.
Jou onkunde gaan jou ook nooit verskoon word nie, want jy het verkies om onkundig te bly.  In die finale Wit Troon Oordeel aan die einde van die 8ste dag van die toekomstige Fees van Tabernakels wat op die 22ste Tishrei sal eindig, sal jy moet antwoord.
 
MOSES GAAN JOU AANKLAER WEES
 
Weet jy wie gaan jou aanklaer wees? MOSES en sy Gebooie. Lees maar Joh. 5:45-47.
Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig – Mosheh op wie julle gehoop het. Maar as julle Mosheh geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskryf. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?
 
In Openbaring lees ons van die boeke wat geopen gaan word gedurende die Tweede Opstanding, die Tweede Dood, die Wit Troon Oordeel. Die Boek van die Lewe en die Torah (die Wette van Moses) en die Profete waarna Yahushua in Sy aardse lewe verwys het as synde die Geskrifte!!
Daar wag ‘n uiters onaangename verrassing op die stoere aanhangers van die Christendom wat vasgevang is in afgodediens en wat weier om hul koppe uit die sand uit te trek en wie bly vasklou aan die sinnelose en holle oorleweringe van hul voorgangers!!
 
Die hedendaagse protestantse Christendom is bloot die stiefkinders van die misleide en bedriegde Rooms Katolieke waaruit Martin Luther en ander hervormers probeer wegbreek het. Hulle het geprotesteer (protestant) teen die feit dat die Pous en die priesters hulself aangematig het om kwansuis in die plek van die Verlosser/Saligmaker te tree om die gewone mens sy sonde te kon vergewe, terwyl dit inderdaad slegs Elohiem was wat dit kon doen. Ook die afkoop van die mens se sonde sodat hy ‘n korter tyd in die vagevuur sou deurbring, ens.
Die Hervormers het die saligheid deur die geloof beklemtoon ten koste van die Torah. Dit terwyl die geloof in die Messias juis hand in hand saam loop met die verstaan en gepaardgaande onderhouding van die Torah. Die geloof was die enigste faktor – Yahweh se Torah het irrelevant geword. In werklikheid was daar ‘n anti-semitiese gees onder die hervormers, spesifiek Martin Luther, teen die einde van sy loopbaan, dermate/in 'n groot/in 'n geringe mate/sodanig dat hy opdrag gegee het dat christene nie met die Jode mog meng of assosieer nie, en veral hul Torah, Yahweh se Torah, was onaanvaarbaar. Jy kan hierdie navorsingsfeite self bevestig.
 
Die Hervormers het nie kans gehad om behoorlik te protesteer en heeltemal totaal en radikaal terug te keer na die geloof van die Apostels van die Bybelse tyd nie. Daar was baie dinge waaroor hulle nog moes protesteer maar waarvoor daar net nie tyd was nie, omrede die Pous van Rome wie in diens van satan was en steeds is, hulle vervolg en laat vermoor het. Hulle was dankbaar om baie keer met hul lewens weg te kon kom. Terselfdertyd was hulle egter ook so vasgevang in die heidense en afgodstradisies van die Pousdom dat hulle ook nie altyd ‘n onderskeid sou kon maak tussen die bome en die bos self nie.
 
Geeneen van die hervormers het die volle waarheid gehad nie. Daarom het die een hervormer na die ander tevoorskyn gekom en sy eie aparte beweging gestig. Daarom is daar vandag duisende aparte verskillende christen denominasies.
 
Maar baie dankie tog aan die Almagtige, die Onsienlike, die Alleen-Wyse Elohiem YAHWEH – die reformasie het nie opgehou nie – dit het steeds voort gegaan en leuens en bedrog is onthul, soveel so dat leke soos ek en jy vandag instaat is om navorsing te doen en die leuens en bedrog te ontmasker en om dit met ander gelowiges te kan deel. LEES VERDER!
 
 
 
 
 

The following manual translations are also available. If you can improve on the existing translation, please send it to servant@nazareneisrael.org. Thank you.


English
 
Copyright 2010 by Stick of Ephraim | Terms Of Use | Privacy Statement