HOOFSTUK 18
VERBOD DEUR DIE RABBIS TEEN DIE UITSPREEK VAN DIE VADER SE NAAM “YAHUWEH”
As ek jy is vat ek ‘n kort breukie – die volgende onderwerp is baie insiggewend en roerend – jy kan nie onaangeraak bly nie.
Twee faktore het bygedra tot die verdwyning en onderdrukking van Yahushua se naam.
Die eerste was die onskriftuurlike en satanies-geïnspireerde bygeloof dat die Jode nie die eie en persoonlike naam van die Vader fisies mag uitspreek nie. Dit het daartoe gelei dat die naam van Yahuweh verbloem is in die YHWH vorm – die tetragrammaton met bykomende vokaalpunte om die uitspraak verder te verander.
Die tweede faktor was die uitermatige onnatuurlike demoniese gesindheid van anti-semitisme wat onder die heidene teenoor die Jode geheers het. Hulle het die Jode verafsku en so ook die Almagtige van die ou Testament, soos reeds hierbo na verwys. Dit het dan ook verder bygedra dat die Joodse Rabbis die uitspreek van die Naam van YAHWEH verbied het en gesanksioneer het met die doodstraf deur steniging, self.
Die heidene het ook in die Babiloniese ballingskap die Joodse volk getreiter en gespot as Yahudi’s na aanleiding van die uitspraak van die Naam van hul Elohiem, Yahuweh, Yahweh of Yahueh of Yahuah.
Dis uiters interessant om daarop te let dat Yahweh self rampspoede op Yisrael “gereën het. Dit was as gevolg van Sy haat en afsku jeens Yisrael se ongehoorsaamheid om Sy, Yahweh se Torah te onderhou, dat Hy in Jeremiah 44:26 profeteer. Hy sweer by Homself dat die Jode nie Sy Naam ooit weer oor hul lippe sal noem nie!! Yahweh kan kwaad word en Hy sal straf, Hy beloof dit.
Die Joodse Rabbis het toe inderdaad bykans 300 jaar later ‘n verbod op die fisiese verbale uitspreek van die Naam van die Skepper YAHWEH geplaas, strafbaar met die dood. Hierdie verbod was steeds van toepassing ten tyde van Yahushua se eerste koms toe Hy as die Verlosser en Saligmaker op die vloekpaal kom sterf het. Yahshua het juis openlik kom verklaar dat Hy Sy Vader se Naam kom openbaar het aan Sy dissipels. Hierdie hoog heilige, afgesonderde aparte verhewe Naam wat bedek en weg gesteek moes word – wat nie deur enige persoon genoem mag word nie – wat die Naam nie eens oor sy lippe mag uitspreek nie.
YAHSHUA KOM PLAAS DIE NAAM VAN SY VADER YAHWEH
TERUG IN DIE VOLKSMOND
Dit was net beskore vir die Hoë Priester wat dit een maal per jaar in die Tempel kon doen en op Yom Kippur. Hierdie Naam was vir baie Israeliete ‘n geheimenis waarvan hulle net gehoor het. Maar Yahushua kom om Sy Vader se hoog afgesonderde en verhewe Naam weer openbaar te maak en dit terug te plaas in die volksmond.
In die oë van die skrifgeleerdes en die Joodse rabbis moes hierdie hoogverhewe afgesonderde, aparte naam van Yahweh beskerm word. Al het dit beteken dat die Torah instruksies wat alle mense gelas om Sy eie afgesonderde en aparte naam te ken en te gebruik, oortree sou word. Byvoorbeeld in Deuteronomium 6:13 waar Yahweh uitdruklik opdrag gee dat die Israeliete by Sy Naam moet sweer. In Lev.19:12 waarsku Hy teen die gebruik van Sy Naam wanneer daar vals gesweer word – en Yahshua self waarsku ook in die hernieude testament hierteen.
Yahshua het duidelik nie hiermee saam gestem nie, d.w.s. die verbloeming en geheimhouding van die Vader se eie persoonlike naam nie. En om sake te vererger het duisende Jode begin glo in Yahshua en Sy spesifieke benadering tot die Skrifte het aanklank gevind.
Op ‘n stadium het die hoë priesters hulle tempel polisie gekritiseer omdat hulle Yahshua nie arresteer het nadat hulle Hom hoor praat het nie. Die tempel-polisie het hulself verdedig deur te antwoord dat daar nog nooit enige persoon was wat soos hierdie man gespreek het nie.
Die skrifgeleerdes en priesters was woedend dat die tempel-polisie kant gekies het vir Yahshua teenoor die godsdienstige leiers en het hulle uitgedaag met die vraag of hulle ook nou mislei is – en of enige van die leiers of van die Fariseërs in Yahshua geglo het.
Yahshua was ‘n bedreiging vir die rabbis en die spesifieke vorm van Judaïsme wat hulle gepredik het. Yahshua was ‘n direkte bedreiging tot die kerklike gesag en daar moes dringend van Hom ontslae geraak word. Latere literatuur wat deur die rabbis saamgeflans was, het gewag gemaak van die feit dat Yahshua kwansuis towery beoefen het en dat hy Israel mislei het.
Die rabbis het toe twee oplossings gehad waarop hulle Yahshua kon aankla. Die een was die bewering dat Hy die Shabbat gebreek het. Maar hulle kon Hom egter nie aankla op die Torah gronde in die Geskrifte nie, want Yahshua het geen Torah oortree nie. Hulle kon slegs beweer dat Yahshua die Shabbat-bepalings verbreek het op grond van beperkinge wat deur menslike “tradisies van die voorvaders” neergelê is – tradisies wat later bekend geword het as Talmudiese tradisies en waarna Paulus in sy omsendbriewe verwys as Nomos (Grieks) wat verkeerdelik vertaal word as Torah/Wet. Dit het wye verwarring tot gevolg gehad deur die eeue binne die Christendom.
Maar Yahshua se hande was skoon. Hulle kon Hom slegs aankla omdat Hy iemand op die Shabbat genees het en omdat Hy saam met Sy dissipels ‘n maaltyd buite in die veld genuttig het op ‘n Shabbat. Daarom is hierdie aanklag nie eens deur die aanklaer geformuleer tydens Sy verhoor nie.
Die ander oplossing was om ‘n aanklag te formuleer van Godslastering –die fisiese uitspreek van die Naam van YHWH. Dit is baie belangrik om die omstandighede rondom Yahshua se verhoor en die regverdiging van die Joodse leiers om Hom tot die dood te veroordeel, te begryp. Die godsdienstige leiers van Judea het dit onwettig gemaak vir enige persoon buite die amp van die hoë priester en sekere ‘uitverkorenes’ (wat dit ‘n geheim gehou het) om die hoogverhewe naam van Yahweh fisies uit te spreek. Indien dit uitgespreek sou word, kon dit alleen binne die area van die Tempel plaasvind en gedurende Yom Kippur.
Hul uiters oordrewe valse interpretasie van Levitikus 24:16, Exodus 20:7 en Deuteronomium 5:11 het die blote fisiese uitspreek van YAHWEH se naam as ‘godslastering’ daargestel en strafbaar met die dood. Gaan lees maar hierdie voormelde drie Skrifgedeeltes.
Volgens die Mishna, ‘n versameling Joodse geskrifte, wat vir ons ‘n weergawe bied van die Talmudiese wette van die Jode soos wat hulle bestaan het gedurende die vroeë eerste eeu NC toe die Tempel nog bestaan het, verklaar dat ‘n persoon wat van ‘godslastering’ aangekla en skuldig bevind is, die doodstraf opgelê is by wyse van steniging. Die grondslag hiervoor is gelê in Lev. 24:16.
Maar die Mishna verklaar ook uitdruklik dat die blote godslastering nie strafbaar was met die dood nie. Die lasteraar is nie aanspreeklik nie, tensy hy die hoogverhewe afgesonderde aparte naam presies fisies letterlik uitgespreek het.
Eintlik is dit nodig dat ons volle begrip en insig sal hê in die Joodse Talmudiese wette, wat gebore is uit Rabbiniese interpretasies wat nie verwar moet word met die wette en instruksies van die Torah nie. Dan eers kan ons die verhoor van Yahshua begryp, want Hy is skuldig bevind aan ‘godslastering’ en daarom is Hy ter dood veroordeel.
Die Mishna beskryf dan ook die prosedure in ‘n aanklag van ‘godslastering’ as volg: “Rabbi Joshua ben Karha says: On every day (of the trial) they examined the witnesses with a substituted name, (such as) “May Jose smite Jose.” When sentence was to be given they did not declare him guilty of death (on the grounds of the evidence given) with the substituted name, but they sent out all of the people and asked the chief among the witnesses and said to him, “Say exactly what you heard”, and he says it; and the judges stand up on their feet and rend their garments, and they may not mend them again. And the second witness says, “I also heard the like”, and the third says, “I also heard the like.”
(Sanhedrin 7:5)
Tydens Yahshua se verhoor is dieselfde prosedure gevolg hoewel die regters aanvanklik valse getuienis probeer voorlê het – sien Mat. 26:59-61 en Markus 14:55-56.
Aangesien die verhoor egter ‘n konkoksie was, was die poging onsuksesvol. Op die ou end het twee getuies egter na vore gekom wat beweer het dat Yahshua sou gesê het “Ek kan die tempel van Yahweh afbreek en dit in drie dae opbou”.
Aanvanklik het die getuienis vereis dat ‘n substituut naam gebruik moes word gedurende die aanbieding van die getuienis; maar later in die privaatheid voor die regters alleen, moes die getuie die werklike verbatim naam van Yahweh herhaal wat deur Yahshua gebruik was.
Tog was die getuienis van hierdie twee getuies strydig weens onkonsekwenthede en kon dit nie stand hou nie. Volgens Torah wette moes daar minstens twee of drie getuies wees wat eenstemmige getuienis gelewer het alvorens ‘n beskuldigde die doodstraf kon kry en op hierdie punt was die Joodse hof se hande gebind.
Selfs Yahshua het dit nie eens nodig geag om te antwoord op die voorsittende beampte se vraag “wat Sy reaksie op die getuienis was nie” – daar was geen saak teen Hom voor die hof nie – waarom sou Hy hoef te antwoord? Daar was geen nodigheid vir Hom nie.
YAHUSHUA HET HOMSELF DOELBEWUS ‘GEHANG’
Toe het die verhoor regters Yahshua persoonlik gepeper met vrae en op die een vraag wat Hy wel bereid was om te antwoord naamlik of Hy die Messias was, het Hy “ja” gesê – “EK IS”. Yahshua gaan toe voort om die getuienis wat hulle nodig gehad het om Hom aan te kla en skuldig te bevind, vrywilliglik uit Sy eie uit te verskaf. Hy het die reg gehad om Sy eie lewe te red of om Sy lewe af te lê, soos Hy wou. Inderdaad kan gesê word dat Yahshua “het Homself vrywilliglik gehang”. As Hy dit nie gedoen het nie, was daar geen saak voor die hof nie en sou Hy vry uit gestap het, vrygespreek. Maar dit sou nie Abba Vader Yahweh se goedkeuring geniet nie.
Op die bestaande getuienis wat daar voor die hof was, kon hulle Hom nie tot die dood veroordeel nie, wat nog skuldig bevind – aan wat? In Lukas 22:69 antwoord Hy egter helder, duidelik en uitdruklik:
“Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van ‘YAHWEH’.
Die Griekse weergawe vertaal dit met “Theou” in plaas van “YAHWEH”
Die substituut vertalings bewys net en is in lyn met die destydse gebruik dat die naam “YAHWEH” nie fisies geuiter mog word nie. Indien Yahshua enige ander terme gebruik het soos bv. “Eloah” of “El” of selfs “Theou”, sou daar geen klagtes van godslastering teen Hom ingebring kon word nie en dus ook geen doodsvonnis nie.
Die beste en finale bewyse dat “theos” en “el” substituut terme was in die Bybelvertalings, in teenstelling met die werklike “woorde” wat Yahshua gespreek het, is die reaksie van die hoë priester direk na Yahshua se verklaring. Mat.26:65-68 lui:
“Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het lasterlik gepraat, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle Sy lastering gehoor!”
Hoekom? Want in vers 64 kwoteer Yahshua uit Psalm 110:5 en sê Hy vir die hoëpriester:
“Yahshua sê vir hom, u het dit gesê; Maar ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van YAHWEH en kom op die wolke van die hemele”.
DIT was die belangrikste enkel rede waarom die Joodse skrifgeleerdes en rabbis en owerstes Yahshua ter dood veroordeel het – die fisiese uitspreek van Sy Vader se hoogverhewe afgesonderde en aparte Naam YAHWEH.
En wat doen die Christendom met hierdie naam van die Skepper YAHWEH? Minag dit, vervang dit met ander name, beledig die Skepper van die heelal, verkrag die 3de Gebod. Kruisig Hom nog steeds!
Daardie aand toe Hy verraai is deur Judas het Hy tot Sy Hemelse Vader gebid en aangesien Hy besef het dat Sy aardse opdrag volvoer was, het Hy gesê:
“Ek het U groot gemaak op die aarde. Die werk wat U My gegee om te doen, het ek vervul. En nou, Vader, verhoog My by Uself met die grootheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was. Ek het U Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het U woord bewaar.” Johannes 17: 4-6
Net later herhaal Yahshua Sy gebed in Johannes 17:26 en stel Hy dit ondubbelsinnig:
“En Ek het U Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees en Ek in hulle”.
Yahshua het die hoogverhewe afgesonderde aparte Naam van Sy Vader as so belangrik geag dat Hy dit nodig vind om hierdie belangrike hoogverhewe afgesonderde Naam aan Sy dissipels te openbaar op ‘n tydstip toe die kennis van hierdie hoogverhewe afgesonderde Naam grootliks verbloem en verberg is van die algemene breë bevolking. Dit is so belangrik dat Hy dit nodig vind om aan Sy Vader te rapporteer dat Hy Sy opdrag uitgevoer het – om Sy Vader se Naam aan Sy dissipels bekend te maak.
Hierdie rapport aan Sy Vader was nodig sodat ons vandag steeds kan kennis neem van die onmeetlike matelose belangrikheid van die Vader se Naam. Sy Naam is lewensbelangrik. Die satan, sidder en ook sy onderdane by die aanhoor van hierdie Naam bo alle Name.