Maak die Afrikaans. pdf

 

Select Language

 

 

To return to English, press ‘Show Original’ button in upper right hand corner.  
 

Share This Page With Friends

Bookmark and Share

 

Jerusalem Time

 
 
 
 
 

Subscribe and Donate


 

 

INLEIDING

The following manual (human) translations are also available.

English

 

HOOFSTUK 1
 
INLEIDING
 
Hierdie boek is nie bedoel om ‘n akademiese meesterstuk te wees nie. Die Prediker self het duidelik nie veel respek vir die mens se akademiese vermoëns en sy intellek gehad nie. Hy spreek sy opinie onmiskenbaar uit wanneer hy sê dat studie bloot ‘n vermoeienis van die vlees is en dat aan baie boeke maak geen einde kom nie (Prediker 12:12)
 
Die inhoud van hierdie boek is nie aangenaam nie. Ek wens ek was totaal verkeerd – dat dit onnodig was om hierdie boek te skryf. Ek het ‘n 97-jarige moeder wat moeilik byt aan hierdie ‘vreemde Joodse’ Torah-gesag wat Yahweh aan Moses dikteer het. Ek het volwasse kinders binne die Christendom wat moeilik sal byt aan die nuwe feitelike waarhede wat opgediep is en steeds aangevul word met nuwe feitelike inligting. Hulle het op hul beurt klein kindertjies wie hulle moet groot maak en opvoed in die vrese van Yahweh – hoe gaan hulle dit doen? Volgens die ou tradisionele Christelike patrone of volgens Yahweh se Torah-instruksies? Die boodskap van hierdie boek is nie aangenaam vir die oningewyde nie. Dis traumaties, tragies maar op die ou end is dit verlossend en bevrydend en lei dit tot die volheid van ‘n heerlike ewige lewe.
 
Hoe meer ek egter navorsing doen, hoe meer besef ek dat dit waarmee ek besig geraak het, die absolute onvervalste waarheid is. Ek het op ‘n stadium gevoel asof ek alles waarmee ek groot geword het verraai, verloën – dat ek besig was met vreemde dinge. Maar dit is ons wat verraai en bedrieg en belieg was ons hele lewe lank. Ons kan met groot vrymoedigheid terug draai, soos die Yisraeliete van ouds, terug van hul afgodediens en weer die Elohiem Skepper van die hemel en aarde, Yahweh, aanbid en dien. 
 
Die inhoud van hierdie boek is saamgestel uit die skrywes en navorsingswerk van baie ander voorgangers en selfs insigte van lede van ons huisgemeente. Ek het bloot wyd gelees, geluister, self bietjie in die Skrifte gedelf en opgesom. Hier is niks oorspronkliks in nie, of bitter min. Dit is feite wat vir baie eeue reeds bestaan, maar wat vir die gewone mens ‘n geheimenis was, tot baie onlangs toe.
 
Ons Afrikaanssprekendes is nie baie lief vir Engels lees nie. Daarom is hierdie boek in Afrikaans geskryf vir die leek, vir die gewone mens wat die moeite wil doen om in Afrikaans te lees. Die inhoud kom oral algemeen voor in Engels maar nie in Afrikaans nie.
 
Ek het nie die inhoud van hierdie navorsing probeer struktureer vir naslaan doeleindes of vir akademiese oorwegings nie. Die inhoudsopgawe is min of meer ‘n leidraad van die betrokke onderwerp. Ek skryf soos ek praat, ek herhaal soms onnodiglik sonder om te dupliseer, maar van die feite is in die verlede so verbloem, dat ons eintlik herhaling nodig het om dit weer by ons in te skerp sodat ons dit sal onthou om weer vir ander te kan oor vertel.
 
Ek gaan van meet af aan die Hebreeuse name van die Skepper van die heelal en die van Sy Seun gebruik en nie plaasvervangende afgodsname en titels wat ontleen is uit die heidense Griekse mitologie nie – iets wat verbied word deur die Skepper in die Skrif (Exodus 23:13). En wanneer ek na die Skepper Yahweh of na Sy Seun Yahshua verwys, sal ek die Hebreeuse titel Elohiem (Magtige) gebruik, instede van die algemene heidense term “god” wat betrekking het op afgode, wie se name nie deel van ons woordeskat mag wees nie
 
Die oudste paleo Hebreeus is die taal van die Skepper. Dit is die taal waarin Hy met Adam en Chavah (Eva) gepraat het. Dit is die taal waarin die Skepper uit die hemel uit met Paulus op pad na Damaskus gepraat het. Dit is die taal waarin Hy met Moses gekommunikeer het. Dit is die taal waarin Hy Sy eie Persoonlike Verbondsnaam in Paleo Hebreeus vir ons geskryf het. Die Hebreeuse taal is egter die taal van die Hebreërs/Yisraeliete en jy hoef nie ‘n Jood te wees om ‘n Hebreër/Yisraeliet te wees nie. Jy is ‘n Hebreër/Yisraeliet as jy ‘n afstammeling is, die saad is, van Abraham, Isak en Jakob, deur die geloof in die Messias Yahushua (Gal. 3:29 en 4:28).
 
Die eie en persoonlike naam van die Skepper van die heelal word in moderne Hebreeus op papier geskryf as YHWH (die tetragrammaton) en bestaan uit konsonante wat min of meer so uitgespreek word: YAHUWEH of YAHUAH of YAHUE (YAHWEH) en die van Sy Seun YAHUSHUA (YAHSHUA) wat letterlik beteken YAH (GOD) is redding/verlossing (yashua)
 
Die doel van hierdie navorsingstuk is om TENDENSE, PATRONE uit te wys. Die vreesaanjaende ontdekking is dat hierdie tendense of patrone wat vanaf die vroegste tye aangetref is, vandag nog steeds in ons moderne samelewing gevind word. Die geskiedenis herhaal homself voortdurend – dis skrikaanjaend, maar dis ‘n werklikheid – en hy gaan homself weer herhaal wanneer die anti-messias verskyn. Die Torah gaan weer vir die soveelste keer verbied word en so ook die gebruik van die eie persoonlike naam van die Skepper – YAHWEH – en die naam van Sy Seun Yahshua, die Gesalfde/Messias. (Die Roomse Kerk het pas weer verbied dat die Naam van Yahuweh en die van Sy Seun Yahushua gebruik mag word in hul liturgie en aanbidding – dit spreek boekdele).
 
Die Torah bestaan uit die eerste vyf boeke van die Ou Verbond. En dan kom by die Psalms en die Profete. Die Geskrifte soos wat dit in die tyd van Yahshua die Messias bestaan het, was die Torah plus die Psalms en die Profete. Ons weet dat die Nuwe Testamentiese kanon eers in ongeveer die 5de eeu saamgestel is. So vir 500 jaar het die gelowiges nie enige Nuwe Testamentiese geskrifte gehad om na te verwys nie. Vir hul redding en verlossing was hul dus op die “Torah” aangewese, die Psalms en die Profete.
 
Die een Torah-rol wat uit die Dooie See-rolle opgediep is, bestaan uit 42 lyne met 245 kolomme en 304805 letters wat gelyk is aan 79000 woorde. Hierdie is die letterlike lewende geestelike woorde van Yahweh die Skepper self, gedikteer aan Moses. Yahweh is gees en Sy Woorde is gees en is lewe.
 
DIT IS DIE GEES WAT LEWEND MAAK
DIE WOORDE WAT EK TOT JULLE
PRAAT - IS GEES EN IS LEWE
 
Yahshua sê vir ons duidelik in Joh. 6:63 dat die woorde wat Hy spreek, is gees en is lewe. Hoeveel te meer nie ook die Torah, die woorde van die Vader Yahweh, die Skepper Vader, wat Hyself geskryf en ook die wat Hy aan Moses dikteer het nie – hulle is gees en is lewe. Daarom het Paulus die Torah so hoog aangeslaan. Die kritiek wat Paulus teen die “torah” uitspreek in oa. Galasiërs, het glad nie betrekking op die Torah van Yahweh nie, maar op die “torah” van die skrifgeleerdes, die menslike wette en verordeninge (ook genoem torah, of in Grieks ‘nomos’, die ‘mondelinge wette en oorleweringe’ wat later ook opgeneem is in die Talmud).
 
Lees maar net hoe totaal verkeerd die hervormers en die res van die Christendom Paulus waninterpreteer het, soos Petrus ook gewaarsku het. Watter mens durf dit waag om Yahweh se Woorde as menslike werke van die Wet te bestempel? Paulus sou dit nooit gewaag het nie en hy het ook nie. Dis net die mens wat arrogant genoeg is om Sy Torah te verkleineer en as verouderd te tipeer, teen die kruis vas gespyker en sy “godsdiens” hiervolgens te bou. Yahweh se Torah is ewig en onveranderlik en as jy Yahweh se Torah verwerp, verwerp jy die Lewende Torah, Yahushua ha Moshiach.
 
Die Rooms Katolieke, die hervormers en latere Christene was totaal onkundig as dit by die Torah van Yahweh gekom het. Yahshua het as die Lam van Yahweh, gedurende die “kruisigingsweek” letterlik vier (4) van die sewe (7) Lev. 23 Feeste van Yahweh vervul. Die vertalers en skrifgeleerdes uit die Rooms Katolieke en Protestantse hervorming en lateres het dood gewoon naïef verkeerdelik aanvaar dat Yahshua op ‘n Vrydag gekruisig moes wees omdat die volgende dag ‘n Shabbat was. As hulle kennis gedra het van die profetiese simboliek van die Lev. 23 Feeste van Yahweh, sou hulle geweet het dat daar binne die “kruisigingsweek” van die Messias, twee (2) aparte Shabbatte was – die jaarlikse Shabbat van die 15de Nisan wat direk op die 14de Nisan (pasga) gevolg het, gevolg deur ‘n gewone weeksdag en daarna eers die normale gewone weeklikse Shabbat wat op die 17de Nisan geval het. En tot vandag toe glo die Christen skrifgeleerdes, predikante, pastore en professore, hierdie verkeerde uitleg. (Later meer hieroor)
 
Die teken van Jonah sê vir ons dat die ware Messias drie (3) dae en drie (3) nagte in die graf sou wees – 72 uur – maar die Christendom het die persoonlike woorde van die Messias Yahshua ignoreer en hul eie valse interpretasie gegee. (Later meer hieroor)
 
DIE “NUWE” GEBOD VAN DIE LIEFDE IS ‘N
EEU-OUE GEBOD WAT SPRUIT UIT DIE TORAH UIT
 
Die Torah se fondasie is Deuteronomium 6:4-5:
Die sogenaamde Sh’ma gedeelte: (Luister/hoor! – Sh’ma/Shema!)
“Hoor, Yisrael, Yahweh is ons Elohiem; Yahweh is een. Daarom moet jy Yahweh jou Elohiem liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag”
EN
“…maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is Yahweh”. Levitikus 19:18
 
Hierdie fondament is nie ‘n Nuwe Verbondsopdrag nie. Hierdie opdrag is die kapstok, uit die Ou Verbond uit, waaraan die dekaloog (Tien Gebooie) en ook die res van die Torah gebooie dwarsdeur die Ou Verbond, gehang en evalueer moet word – en ook die meer as 1100 gebooie in die hernieude verbond.
 
Die tien Gebooie, die Dekaloog, die Tien Woorde, is die volgende – Exodus 20:
1.        Ek is YHWH (YAHWEH) jou Elohiem wie jou uit Egipteland, uit die land van slawerny uit gely het;
           (Besef jy dat die Skepper van die heelal, Sy eie persoonlike naam YOD, HEY, VAV, HEY (HWHY)(YHWH) in die oudste paleo Hebreeus met Sy eie vinger persoonlik op die kliptafel uit geskryf het. Moses het dit nie geskryf nie. Dit is Sy verbondsnaam vir ewig, die Enigste Elohiem)
 
2.        Jy mag geen ander magtiges (gode) Elohiem (as YAHWEH) voor My aangesig hê nie – jy mag voor hulle nie neerbuig of hulle dien nie, want Ek YAHWEH jou Elohiem is ‘n jaloerse Elohiem; (Besef jy dat die Christendom hierdie gebod oortree wanneer hulle ander name gebruik in die plek van hierdie hoogverhewe, afgesonderde Naam van YAHWEH? Name wat terug gevind word in die afgodsname van die songod in o.a. die Griekse mitologie soos byv. “Here” (Koningin van die hemel) of “Iesous” (Griekse godin van genesing). Die Christendom plaas hierdie afgodsname in die plek van die Naam, YHWH (YAHWEH), die Skepper van die heelal en doen presies dit wat Hy verbied in die 2de Gebod. Hierdie afgode is ‘n werklikheid en hulle bestaan wel in die geesteswêreld)
 
3.        Jy mag die Naam van YAHWEH jou Elohiem nie ydellik gebruik nie, nie inhoudloos maak nie, nie vervals nie, nie vervang met die name van ‘n ander Elohiem nie, want YAHWEH jou Elohiem sal hom wat dit doen, nie ongestraf laat gaan nie;
           (Dit is presies wat gebeur het. Sy Hoogverhewe, afgesonderde Naam het deur die eeue heen verlore geraak en is vervang met ander afgodsname – “Here” of “Iesus” wat die ‘naam’ van die Skepper niksseggend gemaak het - inhoudloos)
 
4.        Onthou die Shabbat-dag dat jy dit apart, afgesonderd hou – ses dae sal jy werk en al jou werk doen, maar die Shabbat is die dag van YAHWEH jou Elohiem en dan sal jy of jou werkers of jou huurlinge of jou diere geen werk doen nie;
           (Die Shabbat dag – is dit die 7de dag of is dit die 1ste dag? Is Sondag die 7de dag of die 1ste dag? Wat is vir jou hier belangrik en wat is vir die Skepper belangrik? Wie se wil geld, joune of die Skepper s’n? Hy het die Shabbat (1) geseën en toe (2) afgesonder – dit is Sy dag)
 
5.        Eer jou vader en jou moeder dat jou dae verleng mag word;
 
6.        Jy mag nie moord pleeg nie;
           (Die aborsie-wette van die Christendom wêreldwyd – kontra die Torah)
 
7.        Jy mag nie owerspel pleeg nie;
 
8.        Jy mag nie steel nie;
 
9.        Jy mag nie valse getuienis teenoor jou buurman lewer nie (dit sluit in en impliseer dat jy ook nie mag lieg nie);
 
10.      Jy mag nie jou buurman se huis of sy vrou of sy werker of sy diere of enige iets wat aan jou buurman behoort, begeer nie.
 
Fantasties, die fondasie waarop hierdie Tien Woorde berus, is
Deuteronomium 6:4-5 en Levitikus 19:18.
 
Deuteronomium 4:13 sê vir ons dat die dekaloog, die Tien Woorde, die
OPSOMMING is van ALLE GEBOOIE; ook van die meer as 1100 gebooie in
Die Nuwe Verbond:
“Toe het Hy aan julle sy VERBOND verkondig wat Hy julle beveel het
om te doen, die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskryf”.
 
WAT BETEKEN ‘N FONDASIE SONDER ‘N GEBOU?
WAT IS DIE NUT VAN SO ‘N STRUKTUUR?
 
Nou wil die Christendom die hele struktuur, die hele gebou, die kapstok wat
Yahweh, nie ‘n mens nie, wat Yahweh bo op die fondasie geplaas het, dit wil
hulle wegruk en afbreek omdat dit nie meer toepaslik sou wees nie – teen
die kruis vas gespyker – die lewende Woorde van die Skepper self.  Om dan
net die fondasie oor te hou – die liefde waarin die Torah self gegrond is  
Deut. 6:4-5 en Lev. 19:18.
 
Briljant satan!! Jy kry dit al weer reg om ‘n halwe waarheid voor te hou ten
koste van die ander helfte wat onder die mat in gevee word. Want orals
verkondig jou aanhangers dat “ons mekaar net moet lief hê” , dis al wat
tel – Boeddhiste,  New Agers, Okkultiste en sataniste, noem hulle maar op,
alle heidense afgodsdienste predik universele ‘liefde’ en ‘vrede’ – ‘n
sataniese vervalsing, weereens ‘n halwe waarheid vermeng met die leuen,
soos met Chavah (Eva).
 
 
JULLE MOET MEKAAR LIEF Hê,
 IS DIE BOODSKAP VAN DIE NUWE WêRELD-ORDE GODSDIENS
 ‘N DUIWELSE VERVALSING
 
Hierdie is nie ‘n geval waar jy moet kies tussen denominasies nie. Dat jy
moet kies tussen die NG-Kerk of die Metodiste Kerk of die Baptiste kerk, of
watter ander tradisioneel protestantse kerk nie. Hier moet jy kies tussen
YAHUWEH YAHUSHUA aan die een kant en Baal aan die ander kant. Dis ‘n
keuse tussen LIG en donker, LEWE en dood. Hierdie is nie opinies of
standpunte nie. Hierdie boek berus op feite – beoordeel dit self.
 
Onthou!! Die Lig en die duisternis, die Waarheid en die leuen loop hand aan
hand – ‘n haarbreedte verskil. Lucifer word genoem die môrester!!
(Jes. 14:12) en die Messias, die Seun van die Allerhoogste word OOK
genoem die môrester – kyk maar Open. 2:28. Dis ontstellend na aan mekaar en dis geen wonder dat die Christendom so maklik die leuen glo en predik nie!
 
Probeer asseblief die boek klaar te lees – as daar gedeeltes is wat jou
verveel, spring vorentoe en tel weer die draad op. Die onderwerpe is
lewensbelangrik. Ek dwaal soms van my tema af en dan kom ek met
‘n ompad weer terug, maar wees maar geduldig, dit maak dalk alles vir jou
sin op die einde. Die inhoud van hierdie boek is verstommend. Raadpleeg die
inhoudsopgawe. Jy hoef dit nie in volgorde te lees nie, maar probeer elke
hoofstuk deurlees.
Hoofstuk 1 handel oor interessante geskiedenis en teen die einde word
besondere Skrifwaarhede wat vir eeue lank verkeerd vertolk is, rakende
Paulus se omsendskrywes, in die korrekte perspektief geplaas. Sien
byvoorbeeld die bekende Romeine 6:14 “ons is nie onder die wet nie,
maar onder die ‘genade’”.
Hoofstukke 4, 5, 6 is Skriftuurlik gegrond en bied nuwe vars radikale insigte
en is die fondament van ons geloof in die Allerhoogste.
Hoofstuk 7 vlek die waarheid so radikaal oop dat dit jou vuisvoos laat.
Hoofstukke 13 en 14 handel oor die interaksie tussen die sigbare en die
geesteswêreld.
Hoofstukke 16 en 17 gaan terug na Keiser Konstantyn en sy diaboliese
invloed op die Christendom. Yahweh se Levitikus 23 Feeste word volledig
bespreek en beskryf hoeveel reeds in die praktyk letterlik waar geword het,
vervul is en hoe hulle vervang is deur heidense Christelike feeste.
Hoofstukke 18 en 19 handel oor Yahshua en Sy Vader se Naam. Waarom is
Hy regtig vermoor?
Hoofstuk 21 spel die geheim van die Ewige Lewe duidelik uit, soos wat
Yahshua dit gepreek het.
Hoofstukke 2223 is eina, dit sny diep, dit kan seermaak.
Hoofstuk 24 handel oor die Opstandings in die skrifte. Jy is dalk in ‘n posisie
om te kies aan welke opstanding, die Eerste of die Tweede, jy deel mag hê.
Dit sal hartseer wees as hierdie boek dalk van die kansels af verban word,
maar ek dink nie satan gaan sy hand hier oorspeel nie. Hy het nie meer tyd
oor nie.
 
 

 

The following manual translations are also available. If you can improve on the existing translation, please send it to servant@nazareneisrael.org. Thank you.


English
 
Copyright 2010 by Stick of Ephraim | Terms Of Use | Privacy Statement